As jy glo dat ’n opregte sportnutsvoertuig altyd ’n noodwiel op die bagasieruim se swaaideur gemonteer moet hê, is Ford se Ecosport – buiten ’n Suzuki Jimny – die aangewese keuse vir ’n klein, grondpadvriendelike voertuig. 

Sedert die Ecosport se markbuiging in 2013 behaal die voertuig maand ná maand verkoopwelslae vir Ford. Vyf jaar later, met baie strawwer mededinging in 2018, het Ford nou ’n tweedegeslag-Ecosport bekend gestel. Die nuwe Ecosport lyk soos ’n kleiner Kuga met ’n enjinkap, ligte en sierrooster wat herinner aan die groter voertuig. 

Die kenmerkende agterdeurgemonteerde noodwiel het nie verander nie en help ook om te onderskei tussen die verskillende Ecosport-toerustingvlakke. Die intreevlak is ’n 1,5 liter-handratturbodiesel, wat ’n materiaal-noodwielseil het, terwyl die ander modelle, met 1 liter-turboaangejaagde petrolenjins, ’n plastiekdeksel vir die noodwiel het. 

Met die eerste oogopslag blyk dit vreemd dat Ford sy diesel-Ecosport bemark as ’n intreevlakkeuse, met slegs ’n vyfganghandrat, maar marknavorsing het beklemtoon dat bykans 80% van die kopers in die segment vir klein sportnutsvoertuie petrol as hul brandstofkeuse verkies. Gevolglik behoort die meeste Ecosportkopers die 1 liter-driesilinder te bestel, wat 92 kW en 170 N.m lewer, en wakker verrigting bied met die samewerking van Ford se sesganghandrat of  outomatiese ratkaste. 

Een van die tweedegeslag-Ecosport se opvallendste opgraderings is binne, waar daar nou ’n reeks tikskerminligtingstelsel is, wat wissel van 6,5-8 duim in deursnee, na gelang van die betrokke Ecosport se toerustingvlak en prys. 

Ford het die afgelope paar jaar voordeel probeer trek uit die moeitelose skakeling tussen voertuie en hul eienaars se slimfone en die MySync3-stelsel in die Ecosport is ’n uitstekende voorbeeld van  tegnologie wat eenvoudig en doelgerig, pleks van ingewikkeld en doelloos, werk. 

Veiligheidskenmerke is indrukwekkend met sewe lugsakke, maar dit is Ford se MyKey-voogbestuurdertegnologie wat werklik die treffendste is. Daarmee kan ’n Ecosport-eienaar die maksimum snelheid en klankstelsel se luidste volumeplafon vooraf stel, as die voertuig deur iemand anders – soos jou kinders – geleen word. MyKey behoort vir baie ouers ’n gerusstelling oor naweke en vakansietye te wees.

As ’n veldtoervoertuig is Ecosport beperk deur die feit dat daar slegs voorwieltrekmodelle beskikbaar is, maar met 206 mm grondvryehoogte sal jy sonder skade die slegste grondpaaie kan baasraak. 

Haakplekke? Daar is slegs twee swakplekke in Ecosport se mondering. Eerstens is dit die gebrek aan ’n viertrekstelsel, wat ’n teenstander soos die Renault Duster bied. Ford sal wys op die verkoopsyfers wat weerspieël dat min kopers in die klein sportnutsvoertuigmark vierwieltrek soek, maar die Ecosport se 1 liter-enjin en sesgangratkaste werk so lekker saam dat dit jammer is daar bestaan nie ’n viertrekopsie nie. 

Ecosport se pakplek is ook knap teen 333 liter, terwyl van die mededingers amper 100 liter meer ruimte het. Dit is onverklaarbaar, omdat Ecosport se montering van die noodwiel buite die bakwerk, pleks van onder die laairuimte, ’n groter laairuimte tot gevolg moes hê.


In geheel is die slim binneruimtegnologie en verbeterde voorkoms eienskappe wat hoort aanklank te vind by Ecosportkopers, mense met klein gesinne wat graag op grondpaaie wil toer, maar nie ’n plaas se prys wil betaal nie. 

Pryse: 

1.5 TDCi Ambiente 5-ganghandrat R264 500
1.0 EcoBoost Trend 6-ganghandrat R287 500
1.0 EcoBoost Trend 6-ganghandrat R300 700
1.0 EcoBoost Titanium 6-ganghandrat R327 800
1.0 EcoBoost Titanium 6-gang outomaties R339 900

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.