Al is Fortuner sonder twyfel Suid-Afrika se gunsteling-veldwa, het kenners by die Japannese motormaatskappy sekere voorkeure begin opmerk onder plaaslike kopers.

Toyota is een van die min vervaardigers wat steeds petrolaangedrewe V6-enjins in bakkies en soortgelyke sportnutsvoertuite aanbied, maar die meeste kopers verkies diesel. Toyota het daarom besluit om produksie van die Fortuner se V6-enjin van 4 liter te laat vaar.

Die lineêre kraglewering van hierdie V6-enjin het ongetwyfeld voordele in diep Kalaharisand en wanneer daar reuseduine in die Namib gery moet word. Tog is die algemene werkverrigting en brandstofverbruik van ’n turbo-dieselvoertuig beter en Toyota kon nie meer die lae vraag na hierdie enjin – vir diegene wat iets wil sleep of duine ry – regverdig nie.

Benewens die V6-petrolenjin se aftrede sal Fortuner kopers nou slegs ’n outomatiese ratkas kan bestel. Toyota het die sesgang-handrat laat aftree as gevolg van min bestellings.

Syfers is nagevors en Toyota het bepaal dat ’n outomatiese ratkas veel gemakliker is vir alledaagse pendel en verkeer, wat die bestuursomgewing is vir die meeste Fortuner-eienaars.

Geharde veldrykenners sal altyd glo dat ’n handrat beter is, veral vir steil afdraandes wanneer ’n enjin se drukverhouding jou remstelsel word. Met elektroniese hellingbeheer kan ’n Fortuner met ’n outomaties ratkas met gemak by steiltes afry.

Toyota se aanpassing aan die 2020-Fortuner-reeks is nie slegs ’n saak van minder enjin- en ratkasopsies nie. Alle Fortuner-weergawes wat deur die turbodieselenjin van 2,8 liter aangedryf word, kry nou die sogenaamde Epic-afwerking, wat ’n klein bosbreker voor en sleephak agter insluit. Binneruimopknappings sluit nuwe matte en ’n metaalrandoppervlak by die deur in.

Fortuner se nuwe kroonafwerking is Epic Black, wat slegs met ’n yswit bakwerk beskikbaar is. Hierdie nuwe Fortuner Epic Black het ’n swart dak, kantspieëltjies en donker 18-duim-wiele wat ’n eie ontwerp het, anders as enige gewone Fortuner.

As ’n Fortuner Epic by jou aanklank vind, is die prys R660 000 vir die 4x2 en R729 000 vir die 4x4. Diegene wat ’n nuwe Epic Black begeer, kyk na R670 100 vir die 4x2 en R739 100 vir die 4x4.