Daardie Hilux of Ranger gaan beslis uniek wees. RTR spesialiseer in ombouings en opgraderings van bakkies en het verskeie stelle om van te kies. Hulle bring veranderings aan op sekere modelle van die Toyota Hilux en Ford Ranger (in albei gevalle dubbel- en enkelkajuitmodelle).

Op die Ranger wissel hul aanpassing van effens tot ekstra-wild: Van breë wielvellings en ’n uitgeboude enjinkap (scoop) tot ’n indrukwekkende voorste buffer en stylvolle agterklap.

Vir die eienaar wat ook nie tevrede is met sy bakkie se kraglewering nie, het hulle baie opsies, soos om ’n Ranger 3.2 ekstra woema te gee deur dit tot 185 kW en 570 N.m op te jaag van die standaardlewering van 147 kW en 470 N.m. Dit maak nie net die bakkie vinniger nie, maar verbeter ook sy sleepvermoë en die verbysteek van ander voertuie.

As Meneer Boer nóg nie tevrede is nie, kan hy die Ranger SAVAGE 660-opsie kies; 500 kW en 825 N.m, nes dié van die veelgeroemde RTR Mustang en met ’n Tremec Magnum-sesspoedratkas, opgegradeerde Fox-vering en -remme en ’n unieke kuns-bakwerkmondering vir buite én binne die kajuit.

Die Hilux kan op verskeie maniere opgekikker word, soos die enjinkap, vellings en die voor- en agterkant. Vir die spoedvraat kan RTR sy dieselbakkie se enjin ekstra woema gee deur byvoorbeeld die 2.8 GD6 vanaf 130 kW en 450 N.m tot sowat 185 kW en 600 N.m op te dollie. Die uitlaatstelsel en tussenverkoeler word ook opgegradeer.

PRYS: Op aanvraag

NAVRAE: Webwerf: www.roadtoracesa.com; e-pos: jacques@roadtoracesa.com; sel 076 557 5055.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.