Wat is taaier en hou langer as ’n Land Cruiser? Mercedes-Benz se outydse veldwa, die Geländewagen.

Geskep as ’n weermag-ondersteuningsvoertuig tydens die Koue Oorlog, het die Geländewagen nie net die val van die Berlynse muur oorleef nie. Dit het dekades lank voorkeur geniet op alle markte, ondanks ’n verouderde ontwerp.

Ná 40 jaar het Mercedes-Benz in 2018 die eerste werklike vernuwing van die Geländewagen aan die mark beskikbaar gestel. Die huidige weergawe het steeds uitwendige deurskarniere en hidrouliese kragstuur, maar die voorvering werk nou onafhanklik.

Wat is die punt van die Geländewagen? Veral die luukse weergawes, wat net onder R3 miljoen kos?

Ná ’n week se pendel en plaaspad ry, het die Geländewagen se kenmerke gedy: Dit is ’n klein, weelderige veldwa, met reuse-teenwoordigheid, wat onstuitbare selfvertroue aan die bestuurder gee.

Met afmetings wat nader aan ’n Fortuner as aan dié van ’n Land Cruiser is, kan jy sonder moeite in nou stadstrate driepuntdraai of parkeer. Die dun dakpilare gee ook ’n uitstekende uitsig – veral oor die voertuig se voorste hoeke – wanneer jy ’n skerp draai moet maak en nie onkundig oor die sypaadjie of ’n rotswal wil ry nie.

Die Geländewagen se oorsprong as ’n weermagvoertuig is duidelik wanneer jy agter die stuurwiel sit of enigiets moet laai. Die dakruimte is verbasend, oorgeërf van die ontwerp van ’n weermagvoertuig, wat genoeg plek moes bied vir ’n lang offisier om met ’n veghelm op te kon bestuur.

Die agtersitplekke vou nie plat nie, dus kan jy maar vergeet van slaapsakke uitrol en oornag in ’n Geländewagen. Of om groot voorwerpe agterin te laai.

Mercedes-Benz het die afgelope paar jaar meestal belaglike G63-weergawes van die Geländewagen verkoop. Die G400d is egter meer sinvol. Daardie 3-liter-, sessilinder-dieselenjin pas beter by die voertuig se toervermoë en trek steeds ’n barshou, danksy 700 Nm en ’n negespoed-ratkas.

Waar ander weelde-veldwaens senuagtig is op ’n ongeskraapte grondpad vol slaggate, rol die Geländewagen sonder moeite.

Mercedes se wenresep met die Geländewagen is hierdie oudstryder se uniekheid en geharde veldryvermoë. In ’n mark vol weelderige veldvoertuie wat oordadig groot is en orals krap wanneer jy in nou ruimtes moet bestuur, is die G400d ’n Cheslin Kolbe, met die slaankrag van Pieter-Steph du Toit.

Vir die meeste gesinne is ’n Land Cruiser steeds die beste luukse veldryvoertuig, maar as jy iets kleiners soek met meer verrigting en ’n teenwoordigheid, is ’n Geländewagen die Faf de Klerk van luukse 4x4’s.