Sedert hul aankoms in Suid-Afrika meer as ’n dekade gelede, het Chinese bakkies weinig indruk gemaak op die plaaslike voertuigmark. Die enigste Chinese bakkiehandelsnaam wat gedy, is GWM, met sy Steed-reeks.

Hilux- en Ranger-eienaars wat glo dat daar nooit ’n Chinese mededinger vir hul gunstelingbakkies kan wees nie, moet waarskynlik grondpadstof tot nadenke hê ná vandeesmaand se Sjanghai-motorskou. 

GWM het ’n voorloperweergawe van sy Steed gewys wat die voorkoms, binneruim en meganika het om die ontwerpers en ingenieurs van die Hilux en die Ranger slapelose nagte te gee. Die nuwe bakkie is tans naamloos, maar dit word verwag die bakkie sal steeds die Steed-naam dra wanneer die eerste besending dubbelkajuite laat volgende jaar in Suid-Afrika aankom.

Die Sjanghai-skoubakkie het ’n indrukwekkende reeks bybehore, insluitend ’n dakrak, ’n bosbreker met ingeboude wen-as en ’n noodwiel wat in die laaibak gemonteer is. Daar is ook ’n vollengte rolstaaf. 

Binne is luukshede soos ’n raakskerm vir media en inligting, gevorderde stembeheer en verhitte sitplekke vir daai koue winteroggende in die Karoo of op die Hoëveld.

Benewens die treffende voorkoms en luukse binneruim is GWM se skou-Steed ’n reuse-verbetering op vorige Chinese bakkies, gemeet aan tegniese kenmerke.

Die leerraamonderstel het kronkelvere op die agteras, soos die huidige Mercedes X-Klas, en GWM roem daarop dat daar drie ewenaarslotte is. Die teenwoordigheid van voor-, middel- en agter-ewenaarslotte beteken dat hierdie GWM-bakkie in beginsel ’n beter veldryer is as enige ander dubbelkajuit wat in Suid-Afrika verkoop word.

Die enigste ander bakkie wat drie ewenaarslotte het, is Toyota se legendariese Land Cruiser 79, maar dit is ’n baie verouderde ontwerp wat nie op die oop pad, of in stedelike verkeer, sal kan kers vashou by GWM se dubbelkajuit nie.

Enjinopsies sal bestaan uit twee turbodieselkragbronne. Daar word verwag dat GWM se produksieweergawe van die Sjanghai-skoubakkie ’n 2 liter-diesel sal hê wat 145 kW en net kort van 400 N.m sal lewer – syfers wat dit baie mededingend behoort te maak. ’n Dieselweergawe met ’n groter slagvolume sal glo later bevestig word, met wringkrag wat raak aan 500 N.m.

Aandrywing geskied deur ’n Duitse, outomatiese ZF- agtgangratkas, soortgelyk aan wat in die huidige Amarok gebruik word. GWM het sewe kloubeheer-algoritmes geprogrammeer vir die bakkie, wat verseker dat jy moeiteloos deur die strafste veldryomgewings sal kan luier.

Chinese bakkies is nog altyd teen ’n aantreklike prys aangebied, maar die enjins was te dors vir die krag wat hul gewek het, die remme bietjie traag en algemene binneruimbougehalte ietwat stief. 

Met GWM se toekomstige Steed word al hierdie kwessies aangepak. As die produksieweergawe van sy Sjanghai-skoubakkie plaaslik teen ’n tipiese, Chinese prys verkoop word, gaan daar volgende jaar perde wees in die Suid-Afrikaanse bakkiemark.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.