Enige motorvervaardiger wat ’n bakkie na Suid-Afrika bring, moet weet: Ford, Toyota, Isuzu en Nissan se bakkies het elk ’n voorsprong van sowat 50 jaar. Daar is diegene wat reken geen ander bakkie sal ooit inhaal nie, en die slagoffers lê padlangs gesaai as bewys daarvan. Maar die geskiedenis is geduldig, en ons leef in onsekere tye waarin dinge in ’n oogwink kan verander. Op een dag is ’n digitale muntstuk $1 werd, en ’n week later $100.

Maar sê nou die inkommer wat wil kom nes skop, bied ’n eienskap wat die plaaslike inwoners onweerstaanbaar vind? Iets omtrent die gevestigde bakkies waarmee eienaars half gedweë saamleef – uit gewoonte of omdat hulle nie dink dit kan anders wees nie. Iets wat die Ford F250 van die vorige dekade gehad het, maar dit alleen kon hom nie red nie. Later meer daaroor.

Die bakkie hier ter sprake is die GWM P Series, sommer P-reeks in Afrikaans. Terloops, GWM het hom “Poer” gedoop, maar het dit toe na “P Series” verander. Anders sal ons mense mos sê hy poer-poer. En so aan . . .

Nuttige tierlantyntjies

Ek het al hier geskryf dat die GWM Steed 5E en Steed 6 nie onaangename bakkies is nie en dat hul dieselenjins stil, glad en suinig loop. Maar verfynde dieselenjins is omtrent al wat hulle met die P-reeks gemeen het. Laasgenoemde is drie generasies beter as die ou Steeds. Hy’s so stewig soos ’n rots en bevat gevorderde toerusting waarvan die gevestigde bakkies in sy prysklas net kan droom. Byvoorbeeld, elke P-reeks-bakkie het parkeerhulp agter, wat waarsku as jy agteruit beweeg en te naby aan ’n ander voertuig of ’n muur kom.

Die P-reeks 2.0TD-dubbelkajuit DLX 4x4 (R434 900, sesgang-handrat) wat ons getoets het, het ses lugsakke, banddrukmonitors, ’n sondak, elektriese sitplekverstelling vir die bestuurder, twee kameras, ’n inligtingskerm, stabiliteitsbeheer, en snelheidsbeheer. Die stuur is verstelbaar vir hoogte en diepte. (Gaan kyk gerus op www.gwm.co.za wat die duurste P-bakkie alles bied.)

Die P-reeks bied twee luuksheidsvlakke, naamlik Commercial (werksbakkie) en Passenger (passasiersbakkie). GWM bestempel die bogenoemde DLX 4x4 as ’n werksbakkie, maar kyk net al sy toerusting!

Trae turbo

Die dubbelkajuit is in albei vlakke (werk en passasier) beskikbaar, maar die enkelkajuit is slegs as ’n werksbakkie beskikbaar en alleenlik met die sesgang-hand- ratkas. Dié ratkas werk nie lekker saam met die P-reeks se tweeliter-turbodiesel nie. Hierdie viersilinderenjin ontwikkel 120 kW en 400 Nm, wat naby aan die Nissan Navara 2.5 en die Hilux 2.4 se uitset is.

Die probleem is dat die GWM se turbo-aanjaer traag is om aan die gang te kom. Wanneer die verkeerslig groen slaan, moet jy eers die toere so ’n bietjie met die regtervoet opjaag voor jy die koppelaar los. Die enjin se toere- strek is ook taamlik beperk, wat dus in die stad gereelde skuiwe van jou en die ratkierie vereis. Die P-reeks is die soort bakkie wat jy slegs met ’n outokas moet koop. Laat staan die handratweergawe.

Op die oop pad pla die ratkas en trae turbo min. Die bakkie trek nie so sterk soos die Hilux 2.4 nie, maar hy’s nie flou nie. Sy padhouvermoë is goed en daar’s nie noemenswaardige geraas wat die kajuit binnedring nie.

Dit voel in die algemeen soos ’n ryding wat deeglik en met sorg vervaardig is. Die binne- ruim is luuks, en waar jy ook al kyk of vat, lyk en voel dit soos ’n duur motor of luukse sportnutsvoertuig.

Die viertrekstelsel werk soos Volkswagen se 4Motion of Audi se Quattro, wat beteken ’n rekenaar en sensors besluit deurlopend of wringkrag na die voor- of agteras gelei word. Verder is daar verskillende ry-modusse wat dit makliker vir groentjies maak om taai veldrytoestande die hoof te bied. Jy kan wel heeltydse 4x4 kies, asook laestrek.

Op grondpaaie was die ritgehalte gemiddeld – hy ry nie so sag soos die Ranger nie, maar sal darem ook nie jou sedes losskud nie. Brandstofverbruik was rondom ’n netjiese 10 liter per 100 km.

Die GWM P-reeks is die grootste eentonbakkie in sy klas. Sy binneruim het genoeg plek om selfs ’n fris- geboude boer gemaklik te laat sit, en is omvattend toegerus.

Woonkamer op wiele

Die eienskap wat die P-reeks gaan help om in Suid-Afrika oor die doellyn te duik, is sy afmetings. Dis amptelik die grootste eentonbakkie in sy klas. Sy bak het dieselfde volume as die Ranger, maar sy binneruim is soos ’n sitkamer.

Elke boer is nie ’n reus nie, maar gaan loop by Nampo en jy sien arms soos boomstompe en hande soos hamme. Dié manne moes gewoond raak aan bakkies wat jou soos ’n nommer 13-voet in ’n nommer 11-skoen laat voel. Ons hou van ons Hiluxe en Rangers, maar droom van ’n nuwe Ford F250 of Toyota Tundra waarin ons ’n bietjie kan uitstrek.

Uit die aard van hul ontwerp is dubbelkajuite ook dikwels suinig met plek vir die agterbankers se knieë. Hoe ’n groot boer hom sit maak in ’n 70-reeks Land Cruiser, is iets wat wetenskaplikes nog nie verstaan nie.

Nou kom die Groot Vrae: Hoe lank sal so ’n bakkie hou? Gaan hy die werk op my plaas oorleef? Dit is te vroeg om te sê, maar die P-reeks se bougehalte is belowend. Haval-GWM beklee die agtste plek op die lys van topverkoper-fabrikante in Suid-Afrika, met heelwat handelaars wat ondersteuning bied. Dié Chinese maatskappy het al gewys sy beeld is vir hom belangrik, en waarborg sy voertuie vir vyf jaar of 100 000 km. Vir sy diensplan geld dieselfde tyd en afstand. Die P-reeks moet elke 10 000 km versien word.

PRYSE: R339 900 tot R544 900.