Enige boer se hartsbegeerte is ’n Land Cruiser-200 VX, maar met ’n prys wat nou aan die verkeerde kant van R1,5 miljoen gaan draai, en met die plaasvervanger-300 VX binnekort op eie bodem, kan daar twyfel wees oor die besluit.

Die Land Cruiser Prado is twee derdes 200 VX, maar tog vind baie Toyota-veldrygeesdriftiges meer aanklank by die goedkoper Fortuner.

Jare lank was daar ’n enkele swakplek in die Prado se mondering: enjinkrag. Of liewer, die gebrek daaraan. ’n Leë Prado weeg 2,5 ton en die 2,8 liter-enjin het nog altyd gesukkel om daardie gewig met ywer te laat versnel.

Al het die Fortuner en Prado oor die laaste paar jaar soortgelyke kragsyfers gehad, is die eergenoemde ligter – wat beter verrigting tot gevolg het.

Verlede jaar het Toyota ’n verbeterde 2,8 liter-enjin in die Hilux, Fortuner en Prado ingebou. Met 150 kW en 500 Nm het dit ’n gedaantewisseling teweeg gebring vir die Prado, wat ook ’n ekstra rat bygekry het.

Met hierdie sterker enjin en sesgangratkas huiwer jy nie meer om die versneller plat te trap wanneer ’n swaar vragmotor verbygesteek moet word nie. Die outomatiese sesgangratkas is dalk effens traag om te wissel, maar die 100 Nm meer wringkrag en ’n ekstra 30 kW wat die toeretellernaald kolksgewys trek, maak ’n reuseverskil aan die voertuig se vermoë om ander voertuie verby te steek.

Die Prado-platform is nie meer vandag se kind nie, met die onderstel wat sedert 2009 beskikbaar is. Dit beteken hidrouliese kragstuur, met baie meer terugvoer as die meeste luukse veldwaens se elektriese stuurstelsels.

Strawwe veldryroetes is waar die Prado uitblink en met daardie sesgangratkas en sterker enjin kom die leerraamonderstel se taaiheid en Toyota se veringstelsel tot sy reg.

Gelaaide dieselaangedrewe Prado’s het jou soms in koue sweet laat uitslaan in duinevelde, maar die nuwe weergawe het ’n oorvloed gerusstellende krag wanneer jy dink momentum begin kwyn. Hou die versneller oop en namate die kraan van die 150 kW-krag aangedraai word, verower jy maklik hindernisse soos duine en sandpaaie, wat ’n probleem sou wees vir die vorige 2,8 liter-diesel Prado.

Die Prado se binneruim is luuks en die bougehalte onverbeterlik, maar ’n verouderde ontwerp is onbetwisbaar en Toyota se inligtingstelsel het grafika wat lyk soos iets uit ’n rekenaarspeletjie van die 1990’s.

Teen R1 1173 500 is die Prado 2.8GD VX amper ’n derde duurder as ’n Fortuner 2.8GD VX 4x4, teen R806 300. Maar as jy reuse-afstande wil toer, is Prado se 150 liter-dieseltenk van onskatbare waarde.