Haval het ’n sterk teenwoordigheid op die plaaslike mark. Die afdeling vir luukser voertuie van GWM (wat bekend is om hul bakkies) spog nou met die Jolion, ’n knap alternatief in een van Suid-Afrika se mededingendste voertuigmarkte.

Met afmetings van 4,47 m van voor na agter en 1,84 m van sy tot sy is hierdie Chinese sportnutswa wat grootte betref, vergelykbaar met iets soos ’n Toyota RAV4. Die ontwerp is treffend, met ’n reusesierrooster, reghoekige kopligte en allerhande bakvormlyne wat die oog lei.

Chinese voertuie bied altyd ’n oorvloed toerusting. Selfs die intreevlak-Jolion City spog met 17 duim-allooiwiele, parkeersensors, elektroniese stabiliteitsbeheer, ’n banddrukmeter, elektriese kantspieëls en ’n 10,25 duim-tikskerminligting-en-vermaakstelsel. Teen slegs R299 900.

Die hele Jolion-reeks word aangedryf deur ’n 1,5 liter-turbopetrolenjin, wat 105 kW en 210 Nm opwek. Slegs die City-weergawe het ’n sesgang-handratkas, terwyl al die ander Jolion-weergawes ’n sewegang-dubbelkoppelaarratkas gebruik.

Die reeks is slegs beskikbaar in voorwieltrek. Met ’n lae grondvryhoogte van 168 mm is hierdie nuwe voertuig verseker eerder ’n ligte grondpadwa as iets vir ernstige veldrywerk.

Kopers wat ’n kleiner gesinsvoertuig met redelike grondpadvermoë en onverbeterlike waarde soek, kan gerus na die Jolion-kroonweergawe kyk. Teen R398 900 het hierdie Super Luxury-weergawe alles waaraan jy kan dink.

Daar is ’n sondak en leersitplekke, waarvan die bestuurder s’n elektronies verstelbaar is. Om parkering makliker te maak, het die Jolion Super Luxury ook ’n 360°-valkoogkamera en op die snelweg en in stadsverkeer is daar ’n noodremfunksie wat intree indien nodig.

Jou slimfoon kan ook op ’n energieoppervlak laai en die Jolion Super Luxury het ’n reuse- 12,3 duim-tikskermvermaakstelsel met uitstekende helderheid en kleurkontras, al skyn die Karooson daarop.

Vir bestuurders wat gereeld snags die langpad moet aandurf, het die Jolion Super Luxury ook ’n hooflighulpstelsel, wat herken wanneer ’n aankomende voertuig in jou ligstraal is en outomaties die hoofligte verdof. Dit spaar jou die moeite om deurentyd die hoofligte van hul sterkste na ’n dowwer verstelling te moet aanpas om nie aankomende verkeer te verblind nie.

Daar is geen Japannese of Koreaanse teenstander wat ’n vergelykbare voertuig teen dieselfde waarde bied as Haval se Jolion nie. Al wat krap, is die lae grondvryhoogte en die gebrek aan ’n diesel- of vierwieltrekweergawe.