Ná 40 jaar van plaaslike vervaardiging ondergaan een van Suid-Afrika se bekendste bakkies ’n naamverandering. Isuzu se KB-bakkies sal voortaan as D-Max bemark word. Dit is ’n poging om die plaaslike reeks meer in pas te bring met ander markte.

Die naamverandering sal dalk vir geharde Isuzu-bakkie-eienaars ’n oomblik van ligte heimwee veroorsaak, maar met die oorskakeling na die D-Max-benaming is daar die dubbele meevaller van ’n groter reeks en nuwe bybehore.

Sedert Isuzu Japan net meer as ’n jaar gelede volle beheer geneem het van die maatskappy se bedrywighede in Suid-Afrika, was die hoop groot onder bakkiegeesdriftiges dat van die toerustingvlakke wat in buitelandse Isuzu-modelle beskikbaar is, ook plaaslik beskikbaar sou word.

Isuzu weet hoe gewild die KB-handelsmerk in Suid-Afrika is en die plan was om omsigtig met ’n naamsverandering te handel.

Verbeterde meganika, ’n groter aanbod van modelle en nuwe binneruimtegnologie span saam om as aansporing te dien vir die plaaslike omskakeling van KB na D-Max.

In geheel is Isuzu se bakkie-aanbod nou ’n stewige 30 modelle sterk, in die D-Max-gewaad. Die vernaamste aanwins met hierdie uitgebreide reeks is nuwe werkesels met kantelbakke of ’n plat laaioppervlak – iets wat beslis aanklank kan vind by diegene wat groot voorwerpe wil karwei. 

Die D-Max-enkelkajuitbakkies met kantelbak- en platlaaioppervlak word aangedryf deur Isuzu se 2,5 liter-dieselenjin. Dit het twee kragleweringsvlakke: 58 kW en 176 N.m, en 100 kW en 320 N.m. Die sterker 2,5 liter-enjin het ’n groter turboaanjaer en ook ’n tussenverkoeler, wat ontbreek in die minder kragtiger 58 kW-weergawe. 

Buiten die nuwe kantelbakmodelle is die ander belangrike meganiese verandering twee verbeterde ratkaste. Isuzu se mededingers bied al geruime tyd ses-, sewe- en agtgangratkaste in hul bakkies en die KB, wat slegs met vyfgangratkaste beskikbaar was, het in die jongste jare begin afsteek. Die D-Max-reeksomskakeling bring nou ’n sesganghandratkas of ’n outomatiese ratkas vir alle LX-modelle, wat aangedryf word deur die beproefde 3 liter-turbodieselenjin wat 130 kW en 380 N.m lewer. ’n Blink sierrooster onderskei die LX-modelle van minder luukse D-Max-modelle. 

Diep in die D-Max-reeks se binnegoed is ’n slim veiligheidstelsel, wat Isuzu glo die verskil kan beteken tussen ’n noue ontkoming en ongeluk wanneer jy teen ’n hoë snelheid remme moet aanslaan. Die tegnologie is ’n rembeheerstelsel wat die versnelleraksie uitskakel wanneer in ’n noodgeval rem getrap word al is die regtervoet steeds op die versneller.

In toetse is bepaal dat die meeste bestuurders in ’n noodremaksie nie hul regtervoet vinnig genoeg lig van die versneller nie. Isuzu se elektroniese versperring van die versnelleraksie in ’n noodsituasie kan jou daardie breukdeel laat wen wat die verskil tussen ’n amper-oomblik en ’n ongeluk kan beteken.

Binne is die D-Max se grootste aanwins ’n groter agtduim-tikskerminligtingstelsel, wat oorgeërf word van Isuzu se MU-X-sportnutsvoertuig. Daar is ook die opsionele keuse van Isuzu se Alpine-klankstelsel, vir diegene wat daarvan hou om die helderste gehalte musiek of vermaak te geniet op daai lang reise deur die Karoo.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.