Hilux se bakkies spog met ’n nuwe voorkoms. Die opvallendste is die “nuwe gesig” van die gewone Raider- en SRX-modelreeks. Die nuwe SRX-model se sierrooster het ’n swart voorkoms om die fris, fieterjasievrye voorkoms van hierdie middelslag- modelle te versterk. Die kleurgekodeerde buffers word behou en ’n bypassende gestileerde glyplaat is aan die onderkant gevoeg.

Outomatiese ligte, waaronder volg-my-werking-ligte, is ’n nuwe toevoeging tot die lys spesifikasies. Aan die binnekant het die SRX-modelle ’n inligtingvermaakstelsel met ’n raakskerm en vier luidsprekers met Bluetooth- en USB-versoenbaarheid wat maklik met die stuurwielskakelaars gebruik kan word.

Die SRX-modelle bied ’n praktiese kombinasie van werk- en ontspanningstoerusting, met die volgende standaardtoerusting:

  • Robuuste 17”-allooiwiele met 265/70R17-bande;
  • Afstandbeheerde, sentrale sluiting met outomatiese deursluiting;
  • Elektries beheerde vensters;
  • Misligte;
  • Lugversorging;
  • ’n Vertoonskerm met multiinligting; en
  • ’n Kantel-en-teleskopiese stuurwiel.

Die GD-6-enjin van 2,4 liter dryf die SRX-bakkies aan met 110 kW teen 3 400 r/min. en 400 N.m wringkrag van 1 600 r/min. tot 2 000 r/min. Die handrat- en die outomatiese model het albei ’n sesgangratkas. 

Glansryk
Die multi-dimensionele misligafwerking het horisontale en vertikale elemente in swart en chroom. Die misligte gebruik ligdiodes vir uitstekende beligting. Die raakskerm van die multimediastelsel in die Raider-modelle is opgegradeer en sluit nou satellietnavigasie en DVD-versoenbaarheid in.

Bluetooth-telefoonwerking, USB-sokke en ses luidsprekers is steeds deel van die pakket en alles kan maklik deur groot skakelaars op die stuurwiel beheer word. Die Dakar Limited se nuwe swart binneruim word gebruik, met ’n swart plafon en metaalswart insetsels in die binneruim.

Gepas vir sy vlagskipstatus bied die Hilux met Raider-kentekens dié omvattende toerusting:

  • Stylvolle 18”-allooiwiele met 265/60R18-bande;
  • Hoëgehalte doekstof vir die binneruim-beslag;
  • ’n Koelboks;
  • Leerbedekking vir die stuurwiel en ratkierie;
  • Outomatiese klimaatbeheer;
  • Spoedbeheer;
  • ’n TFT-volkleur-inligtingvertoonskerm; 12 V- en 220 V-bybehoreverbindings;
  • ’n Armleuning met bekerhouers agter; en
  • Sewe lugsakke.

Die bekende viersilinder-turbodieselenjin van 2,8 liter, die GD-6, doen steeds diens in die Raider en bied 130 kW en 420 N.m (450 N.m in die outomatiese weergawe).

In reaksie op die mark se puik ontvangs van die outomatiese Xtra Cab-modelle, is ’n 2.4 GD-6 SRX Raised Body Outo met Middelgradering by die reeks gevoeg. Ses Xtra Cab-modelle is nou beskikbaar. Foto: Toyota

Enkelkajuit 

Die werkesel-enkelkajuitreeks is aangepas om nóg beter in klante se vereistes te voorsien. Die 2.7 VVTi SRX word vervang deur die 2.4 GD-6 Raised Body SRX met ’n outomatiese sesgangratkas.

Die SR-gradering, wat op vloot- en mynbouklante toegespits is en ’n volledige veiligheidspakket het, is uitgebrei met die toevoeging van ’n 2.4 GD-6 Raised Bodyhandratmodel.

Voorheen was dit net met 4x4-werking beskikbaar.

Dubbelkajuit
Twee nuwe dubbelkajuitmodelle is bekend gestel – die S en SR. Die intreevlak-S-gradering, ’n Hilux sonder fieterjasies, is op swaardienswerk gerig. Dié model is nie so weelderig nie, maar is steeds prakties en duursaam. Dié modelle het ’n PVC-binneruimbeslag, ’n “J-dek”-ontwerp (stertdeur met knippe en laaivraghake) en 17”-staalwiele met hoëlading-225-bande om werkverrigting te bevorder.

’n Swart buffer en sierrooster onderskei die S-weergawe van sy Hilux-stalmaats. Kopers kan kies tussen ’n 2.4 GD-6-dieselenjin met 110 kW en 400 N.m of die 2.7 VVTi-petrolenjin wat 122 kW en 245 N.m bied. Die GD-6-modelle is aan ’n sesgang-handratkas gekoppel, terwyl die 2.7-modelle ’n vyfgang-handratkas kry. Die nuwe Raised Body (4x2)- model pas goed in die dubbelkajuitreeks met die gewilde 2.4 GD-6 SRX Outo.

Die vorige model, die petrolaangedrewe 2.7 VVTi SRX, is verruil vir die 2.7 VVTi S. Drie kajuitonderstel-modelle is heringestel en is ’n opwindende nuwe ontwikkeling vir Hilux. Dié modelle is beskikbaar vir die 2.0 VVTi 5-handrat-werkesel, die 2.4 GD-6 5-handrat-werkesel en die 2.4 GD-6 6-handrat SRX 4x4.

Diensplan
Alle Hilux-modelle het ’n waarborg vir drie jaar of 100 000 km. Die diensplan maak voorsiening vir nege versienings of 90 000 km en is deel van al die modelle se standaardtoerusting. Klante kan ook verlengde versieningsplanne by hul Toyota-handelaar koop. 

Navrae:
Toyota Suid-Afrika, e-pos: ccc@tsb.toyota.co.za, tel. 080 013 9111.