Toyota se Land Cruiser-reeks is verreweg die gewildste luukse veldwa onder Suid-Afrikaanse boere.

Met die Prado en Land Cruiser 200 oorheers Toyota die mark vir ernstige veldvoertuie met die voordeel van ’n luukse binneruim. Tog is daar iets wat die afgelope paar jaar aan getroue Land Cruiser-aanhangers krap.

Vir diegene wat nie die prys of reuse-afmetings van ’n Land Cruiser 200 leefbaar vind nie, was Toyota se “junior” Land Cruiser altyd die oplossing. Die Prado se verrigting het egter oor die jare net te veel afgesteek by sy mededingers.

Om amper R1 miljoen te betaal vir ’n luukse veldrystasiewa wat ’n verouderde 3 liter-Hilux-enjin gebruik en besonder lui is teen verbysteeksnelhede op ’n hoofweg, het Toyota-geesdriftiges gepla.

Gelukkig is daar uiteindelik ’n oplossing wat die kleiner Land Cruiser se volle belofte as ’n toervoertuig ontsluit. Toyota het nou aangekondig dat die Prado plaaslik met die jongste 2,8 liter-turbodieselenjin beskikbaar gaan wees. Dit is wonderlike nuus vir Land Cruiser-aanhangers, maar verseker nie iets wat bemarkers by Ford of Land Rover wou hoor nie.

Verbeterings aan die turboaanjaer en ander verstellings aan Toyota se 2,8 liter-viersilinderdieselenjin skuif kraglewering op van 120 kW tot 150 kW, met wringkrag wat klim tot 500 Nm. Die outomatiese ratkas kry ’n sesde rat by.

Dit is veral die 25%-verbetering in krag wat ’n noemenswaardige verskil sal maak aan die Prado se versnelling en verbygaanvermoë, albei swakplekke met die vorige 1KD-FTV-enjin.

Vir diegene wat hul diesel-Prado’s wil gebruik om Namibië, die Noord-Kaap of Mosambiek se sandroetes te verower, sal die verbetering van 120 kW tot 150 kW baie welkom wees. Met 215 mm se grondvryhoogte, ’n 150 liter-dieseltenk en beproefde Land Cruiser-bougehalte is die nuwe Prado ’n Suid-Afrikaanse veldrytoervoertuig sonder gelyke.

Toyota bemark drie dieselweergawes van sy jongste Prado plaaslik, met ’n intreeprysvlak van R939 900 vir die 2.8GD TX, R1 060 600 vir die luukser 2.8GD VX en ’n 2.8GD VX-L kroonweergawe teen R1 105 800.

Verbeterde Apple- en Androidsagteware behoort die nuwe Prado ook beter te laat saamspeel met jou slimfoon.