Dié taai boerdery- en saketoestande het ook ’n invloed op die plaaslike bakkiemark gehad. Verkope in 2019 was sowat 4% swakker as in 2018. In eenhede het verkope gedaal van 159 525 in 2018 tot 153 189 in 2019. 

Wat vir markkenners kommerwekkend is, is hoeveel skerper bakkieverkope gedaal het vergeleke met passasiersvoertuigsyfers, wat op ’n jaargrondslag 2,7% swakker was. 

As die algehele verkoopsyfers vir 2019 ontleed word om die gewildheid van vervaardigers te bepaal, is daar geen verrassings nie. Toyota het heel voorspelbaar die Suid-Afrikaanse bakkiemark oorheers. 

Die Toyota Hilux het 2019 geëindig met 40 934 verkope, wat amper ’n derde van die hele Suid-Afrikaanse bakkiemark was. Ondanks die ongunstige marktoestande het Toyota verlede jaar meer Hilux-bakkies verkoop as in 2018 toe 40 018 verkoop is.

In teenstelling daarmee kon Hilux se grootste mededinger, Ford, in 2019 slegs 25 042 Ranger-bakkies van die hand sit. Wat dié vertoning kommerwekkend vir Ford sal maak, is die feit dat in 2018 altesaam 30 141 Ranger-bakkies verkoop is. Terwyl Toyota op ’n jaargrondslag in ’n kwynende mark groei gewys het, het Ford ver teruggesak.

Kopers skryf Toyota se sukses toe aan die betroubaarheid en reusekeuse van modelle binne Toyota se Hilux-reeks. Namate marktoestande versleg, neem Toyota se markaandeel toe, wat ’n bewys is dat wanneer kopers druk ervaar, is hulle geneig om lojaal te wees aan die handelsnaam se herverkoopwaarde en breër plattelandse diensnetwerk.

Nissan se klein NP200-bakkie was Suid-Afrika se derde gunsteling, met 17 937 verkope. Isuzu was vierde algeheel, met 16 155 D-Max/KB-modelreeks.

In vyfde plek was Nissan se verouderde NP30-bakkie, wat in 2019 tot onder die 10 000-vlak gedaal het met verkope van 8 991.

Ondanks ’n treurige bakkiemark verlede jaar is kenners hoopvol oor 2020 se vooruitsigte. Daar word verwag dat 160 000 nuwe bakkies verhandel sal word, wat ’n groot verbetering teenoor 2019 sal wees. 

Benewens bakkies was daar in 2019 tekens van oplewing in die mark vir middelslagvragmotors. Altesame 8 719 eenhede is verkoop. Verkope van 3,5 ton- tot 8,5 ton-vragmotors het in 2019 met 10,5% toegeneem.