Hino is oor die afgelope 45 jaar deeglik gevestig as ’n belangrike handelsmerk in die plaaslike vervoerbedryf. Hierdie jongste vernuwing bied uiteraard nou die ideale geleentheid om die reeks uit te brei en die Hino-spoor te vergroot. Benewens die aansienlik groter keuse van asafstande sluit die nuwe 500 Wide Cab-reeks nou ook 6x4-weergawes in en bied dit kopers die keuse van ’n outomatiese ratkas.

Wat asafstand betref, is daar nou ’n lang en ’n superlang asafstand vir die 4x2- én die 6x2-modelle met ’n staal- of lugondersteunde veerstelsel by die 6x2-modelle. Drie nuwe 6x4-modelle is beskikbaar met pad- of boendoe-kajuite. Hierdie vastrappers is veral geskik om as vragdraers, wipbakkarweiers of sementmengvervoerders ingespan te word.

’n Groot voordeel van die lugondersteunde veerstelsels is dat die op- en aflaaihoogte maklik met afstandbeheer verstel kan word om produktiwiteit ’n hupstoot te gee.

Die nuwe 500 Wide Cab-reeks, wat by Prospecton naby Durban gemonteer word, gaan Hino se huidige reeks met ’n brutovoertuigmassa (BVM) van 16 ton uitbrei van vyf modelle tot 12 modelle.

Die huidige Hino-reeks met ’n BVM van minder as 16 ton sal eers vroeg in 2018 opgekikker word. Dié modelle sluit in die 1018-vragdraer, die 1326-vragdraer, die 1326-wipbakkarweier, die 1322-4x4-dubbelagterwiel en die 1322-4x4-enkelagterwiel.

En, ja, die nuwe 500 Wide Cab-reeks doen inderdaad sy naam gestand met ’n breër en geriefliker kajuit. Dit is egter net die begin van die storie … want met die breër vooras kon Hino die belading van 5,5 ton tot 7,5 ton verhoog en terselfdertyd die draaisirkel 7% kleiner maak.

Wat die ratkaste betref, is daar twee handratweergawes, naamlik die sesgang-MX06 of die negegang-M009OD/DD. Die kersie op die koek is die outomatiese Allison 3000- of 3500-sesgangratkaste vir sekere modelle. ‘n Nuwe ewenaar met ’n groter wringkragvermoë sorg vir beter betroubaarheid en rond die aandryfstelselprentjie af.

Drie enjins word in die nuwe reeks gebruik teenoor die een enjin van die vorige reeks. Die JO8 Lo verplaas 8 liter en lewer drywing van 191 kW (265 pk) en 794 N.m wringkrag, terwyl die JO8 Hi (ook 8 liter) met 206 kW (290 pk) en 883 N.m oor ’n bietjie meer woema beskik. Aan die bopunt van die nuwe reeks pryk modelle met die P11-enjin wat 11 liter verplaas en met 275 kW (360 pk) drywing en 1 275 N.m wringkrag spog.

Die reeks word gedek deur ’n waarborg van 24 maande met onbeperkte afstand, ’n waarborg van 36 maande teen roes en padbystand vir 24 maande.