Jeep het in die 1960’s die plaaslike landboubakkiemark betree met ’n reuse-enkelkajuitwerkesel: die Gladiator met ’n V8-enjin van 6,6 liter. In 1992 het Jeep egter opgehou om bakkies te maak. Huidige markkragte, wat tot ’n reuse-bloeitydperk vir bakkies wêreldwyd gelei het, het die Amerikaanse vervaardiger oortuig om ’n dubbelkajuitweergawe op sy gewilde Wrangler-4x4-onderstel te bou: ’n wedergeboorte van die Gladiator-naam. 

Openbare belangstelling en vraag na die Gladiator-dubbelkajuit is so oorweldigend dat Jeep begin somme maak om sy reeks bakkies met ’n enkelkajuit uit te brei. Sy J6-vertoonvoertuig, gebou vir Jeep se jaarlikse 4x4-saamtrek oor die Paasnaweek in die Amerikaanse deelstaat Utah, is ’n aanduiding daarvan.

Al het Jeep geen amptelike planne vir ’n kommersiële toekoms vir die J6-bakkie nie, is die vertoonvoertuig ook nie bloot die ontwerpspan se verbeeldingsvlug nie: Onderdele en bybehore is gekies uit Jeep se huidige produksievoertuie. Vir Jeep om uiteindelik ’n J6-bakkie vir die mark te bou, sal gevolglik bloot ’n finansiële besluit wees, nie een wat veel beïnvloed word deur tegniese struikelblokke nie. 

Om die J6-enkelkajuitbakwerk te bou het Jeep-ingenieurs twee Gladiator-dubbelkajuitlaaibakke aan mekaar gelas. Die gevolg is ’n laaibak wat 300 mm langer is as die dubbelkajuit met wielboë met plek vir 37 duim-veldrybande. Die lugvolume van daardie bande en die veringstelsel wat 50 mm hoër is, gee J6 die nodige voorkoms, houding en belofte van sorglose verkenningstogte in die strafste toestande. 

Van die noemenswaardige Jeep-bybehore wat op die J6-bakkie aandag trek, is ’n bosbreker met LED-ligte en ’n ingeboude wen-as. Aanvullende beligting is ook op die dak gemonteer, met nog LED’s, en agter die kajuit is ’n dubbelbuisrolstaaf, wat ook dien as ankerpunt vir die noodwiel, wat in die laaibak is, pleks van onder.

Jeep se beproefde 3,6 liter-V6-petrolenjin lewer 209 kW en 347 N.m. Daardie kraglewering is hoër as enige 4x4-enkelkajuitbakkie wat in Suid-Afrika beskikbaar is. Omdat die J6 op ’n Wrangler-onderstel gebou is, behoort die veldryvermoë ook ongeëwenaar te wees met ewenaarslotte op die voor- en die agteras.

Jeep se toekomsplanne met die J6-enkelkajuitbakkie is nog onduidelik, maar dit blyk dat hierdie bakkie groot belofte inhou, met ’n treffende voorkoms en veldryvermoë. 

Die mark vir ernstige enkelkajuit-veldrybakkies is beperk, wat aan Jeep ’n geleentheid kan bied. Slegs Toyota se Land Cruiser en Nissan se Patrol is 4x4-enkelkajuitbakkies wat bedoel is om te werk. Albei dié enkelkajuite is egter verouderde ontwerpe, wat nie op die oop pad of in uiterste veldrytoestande by ’n Wrangler-enkelkajuit sal kan byhou nie.

Vir diegene wat nog altyd met heimweë gekyk het na foto’s van daardie oorspronklike Jeep Gladiator-plaasbakkies uit die 1960’s, sal daar hopelik in die nabye toekoms ’n geleentheid wees om self die koppies op ’n familieplaas in ’n enkelkajuit-Jeep te kan verken.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.