Al het party mense die Koreaanse karre lagwekkend gevind toe hulle in die laat 1990’s in Suid-Afrika aangekom het, staan Hyundai nou wêreldwyd baie sterk.

Die enigste plek waar Hyundai tekort skiet, is bakkies. Die vervaardiger het bewys dat veldvoertuie binne sy ontwikkelingsbereik is, maar getroue Hyundai-volgelinge wag nou al jare vir ’n bakkie van die Koreane af.

Volgens Hyundai sal die maatskappy se eerste dubbelkajuitbakkie in 2021 op die mark wees. Toyota en Ford sal beslis kennis neem van Hyundai se toetrede tot die mark vir dubbelkajuitbakkies.

Die Koreane is nie skaam om buitelandse talent in te koop nie. Van BMW se beste ingenieurs werk nou vir Hyundai en die bewys van hul invloed is ’n reeks uitstekende voertuie wat maklik met Europese handelsname kan meeding.

Wat kan ons verwag van Hyundai se Santa Cruz-bakkie?

Eerstens gaan dit nie ’n werkesel wees nie. Hyundai se teikenmark vir die Santa Cruz-bakkie sal leefstyl- en gesinseienaars wees, pleks van geharde bakkiekopers.

Pleks van ? staalleerraamonderstel ry die Santa Cruz op ’n skulpromp, soos die meeste sportnutsvoertuie. Kenners meen dat Hyundai die nuwe Sante Fe-platform vir sy Santa Cruz-dubbelkajuit gebruik.

Daar is geen twyfel dat die Santa Cruz-bakkie nie ’n Land Cruiser-bakkie se dravermoë gaan hê nie, maar die sportnutsvoertuigonderstel sal ander voordele bring, soos uitstekende ritgehalte. Hyundai beoog ’n ruim laaibak vir ligte voorwerpe wat ’n groot volume beslaan, of leefstylspeelgoed soos bergfietse.

Hyundai se Sante Fe-reeks beskik oor ’n gehalte-enjin en -ratkas, wat die Santa Cruz ’n gemaklike pendelvoertuig vir gesinne sal maak. Daar is nog nie duidelikheid oor enjinkeuses nie, maar die logiese gevolgtrekking is dat kragbronne in die Sante Fe-reeks na die Santa Cruz-dubbelkajuit oorgedra kan word.

Die meeste wêreldmarkte sal na verwagting kan kies tussen Hyundai se turboaangejaagde 2 liter- en 2,4 liter-petrolenjins. Aandrywing is na al vier wiele deur middel van ’n outomatiese agtgangratkas.

Sekerlik die beste kandidaat vir enige plaaslike toepassing van die Santa Cruz sal Hyundai se 2,2 liter-turbodieselenjin wees, wat 142 kW en 440 Nm lewer.

Hyundai werk ook aan ’n tweede bakkiereeks, soos voorgestel deur die vryskut-motorontwerper Enoch Gonzales. Dit behoort op ’n meer gebruiklik leerraamonderstel te ry, met geharde veldry- en dravermoë, gemik op markte soos Suid-Afrika.