Sedert die taai Terracan-veldrystasiewa in 2007 afgetree het, het Hyundai niks gebied aan sy aanhangers wat ’n veldtoervoertuig met sewe sitplekke soek nie. Die grootste Hyundai met veldryvermoë wat jy tans kan koop, is ’n Sante Fe.

Hyundai het bevestig dat die Palisade bestem is vir plaaslike kopers. Hierdie reuse-meerdoelvoertuig is oorspronklik ontwerp vir die Amerikaanse mark. Te danke aan sterk vraag in Australië is ’n weergawe met ’n regterhandstuur ontwikkel. Dit het die geleentheid geskep vir die bemarking daarvan in Suid-Afrika.

Met agt sitplekke en ’n voertuiglengte van 4,98 m is die Palisade noemenswaardig groter as enige ander Hyundai-passasiervoertuig. Dit is 210 mm langer, 70 mm hoër en 85 mm breër as ’n Sante Fe, wat beter sitgemak en bagasieruimte tot gevolg het.

Waar ’n Sante Fe se bagasieruimte 547 liter beslaan, kan die Palisade 704 liter se tasse en toerusting laai.

Op die Suid-Afrikaanse mark sal die Palisade met voertuie soos Audi se Q7 en die BMW X5 meeding. Al is dit groot genoeg om gemeet te word teen ’n Toyota Land Cruiser Prado, het die Palisade nie laestrekratte of ’n leerraam-onderstel nie – twee veldrykenmerke wat teenwoordig was in die ou Terracan.

’n Weelderige binneruim en uitstekende grondpadvermoë is sterk verkoopspunte van hierdie spoggerige Hyundai. Buiten die treffende ontwerp is daar gevorderde turboaangedrewe enjins, waarvan die 2,2 liter-diesel (147 kW, 440 Nm) waarskynlik die enigste keuse vir Suid-Afrikaanse kopers sal wees. ’n Outomatiese agtgangratkas lewer wringkrag aan al vier wiele.

Elektroniese kloukragbeheer verdeel die beskikbare wringkrag na waar dit benodig word. Met 203 mm se grondvrye hoogte behoort die Palisade heel skaflik oor hindernisse en enige sandoppervlakke te ry.

Die voertuig se veiligheidstoerusting is indrukwekkend, soos jy sou verwag van ’n hedendaagse Hyundai. Daar is ses binneruim- en twee lang gordynlugsakke, wat alle insittendes in ’n botsing beskerm. Die Palisade het ook onafhanklike togbeheer en noodremaksie, wat al hoe belangriker word op Suid-Afrikaanse snelweë.

Die Koreaanse maatskappy het nie bekend gemaak wat die Palisade in Suid-Afrika gaan kos nie, maar vir ’n voertuig van hierdie afmetings en toerustingvlakke kan dit die eerste Hyundai van R1 miljoen word. Die Palisade behoort in die tweede kwartaal vanjaar by plaaslike Hyundai-handelaars beskikbaar te wees.