Leon en Ilze du Toit van die plaas Kleinfontein naby Middelburg, Mpumalanga het die kans gekry om te kyk of die Porsche Cayenne Coupé vir Ilze se Cruiser 200 kan instaan. Die Coupé beïndruk hulle deur maklik af te reken met sinkplaatpaaie. Ook met die slaggate en teeroppervlak wat oorlaaide mynvragmotors op snikhete dae tot klein deinings uitgery het.

Die ritgemak is veral indrukwekkend as jy in ag neem die Duitser het 21”-allooiwiele met laeprofielbande, wat meer gepas is vir die Autobahn as vir ’n plaaspad. Ilze hou van die Coupé se klein, fris stuurwiel, wat boonop veel minder verg (as die Cruiser s’n) om van koers te verander.

Sy syfers: Die turbo-aangejaagde V6-petrolenjin ontwikkel ’n mak- simum van 250 kW en 450 Nm, en die kar weeg net meer as 2 ton. Die topsnelheid is 243 km/h en hy kan in 6 sekondes van 0-100 km/h versnel. Sy penshoogte is 190 mm; of 245 mm met opsionele lugvering. En Porsche sê hy kan deur water ’n halwe meter diep ry.

TOERUSTING

Duitse vervaardigers is steeds ietwat snoep met toerusting. Daar is nie sitplekverwarmers en -verkoelers nie, wat die Land Cruiser wel het.

Nog iets waarmee die Toyota die Porsche troef, is aanpasbare snelheidsbeheer, wat die Cruiser se snelheid aanpas in ooreenstemming met die voertuig voor hom. Dié stelsel kan die Land Cruiser ook onder bepaalde omstandighede self rem as die bestuurder nie betyds besef hy of sy gaan in iets vasry nie. In die Coupé is dit ’n opsionele ekstra.

Sy sportsitplekke se vorm, wat die bestuurder en voorste passasier styf in draaie vashou, is geprys.

HOEKOM ’N KOEPEE?

Die Cayenne Coupé se agterkant is nie amper regaf soos die gewone Cayenne s’n nie, wat die Coupé minder soos ’n stasiewa of tradisionele 4x4 laat lyk. Tog het hy ’n tamaai bagasiebak van 625 liter. Hoewel “koepee” gewoonlik na tweedeurmotors verwys, het ’n spul Duitsers besluit ’n vierdeur-4x4 Benz of Porsche kan ook ’n koepee wees, indien dit so ’n skuins vloeirug het.

WAT IS DIE PRYSVERSKIL?

Minder as R50 000 in hierdie geval. Die Toyota Land Cruiser 200 4.5D V8 VX-R kos R1 510 100 en die Porsche Cayenne Coupé, soos ons hom getoets het, kos R1 461 590. Die Toyota het wel ’n klomp standaarditems wat in die Porsche ekstra kos. Sonder die groter wiele, spesiale bakverf, deure wat vanself saggies toemaak en ’n paar ander kleinighede, sou die Porsche R1 320 000 gekos het. Die Porsche is kleiner as die Cruiser en het vyf sitplekke teenoor sewe in die Toyota.

IS DIT DIE GELD WERD?

“Die Porsche gee ’n sportmotorgevoel in ’n SUV,” sê Ilze. Die Porsche se krag, ratsheid, gerief, voorkoms en ruim binnekant het groot byval gevind by ons proefgesin, maar daar was besliste huiwering om te ry waar hy verrinneweer gaan word. Die Coupé is bes moontlik meer gepas vir wynboere in die Wes-Kaap as in ’n stowwerige omgewing waar die paaie nie onderhou word nie.

Leon vertel van ’n Mercedes-Benz GL waarmee hy jare gelede ’n kans gevat het. Ná ses maande het stof en vibrasie hul tol begin eis en hy het besef die 4x4 gaan nie lank hou nie. Toe hy hom wou inruil of verkoop, het die kar reeds omtrent 30% in geldwaarde verminder. Hy sal dus nie maklik stem vir ’n Duitse motor wat dalk liewer vir Klosters se sneeu gebou is, as vir Middelburg se martelende paaie nie.

PRYS: R1 320 000