Die Duitse vervaardiger bied nou die kragtigste dieselenjin én die duurste bakkie op die plaaslike mark. Waar Mercedes-Benz met sy X-Klas misluk het, is die vraag na die Amarok V6 steeds baie sterk en vir getroue VW-ondersteuners raak hul gunstelingbakkie nou nog beter.

Vir bakkie-eienaars wat vinnig wil ry en sonder moeite vragmotors wil kan verbysteek, is die Amarok V6 ideaal. Daar was bitter min verkeerd met die 3 liter-turbodieselenjin, maar VW het nou bietjie meer krag en verrigting daaruit getoor.

Amarok V6 se knapper enjin bied nou 190 kW teenoor die 165 kW wat verlede jaar se weergawe gehad het. Wringkrag is ’n stewige 580 Nm.

Ingenieurs by VW het ook die Amarok V6 se turboaanjaer aangepas om vir tien sekondes  200 kW te lewer as jy die versneller platgetrap hou. Hierdie aanpassing is juis vir daardie oomblikke wanneer jy sterk versnelling benodig soos om stadige verkeer verby te steek en steil duine te klim.

Verrigting is ongeëwenaar deur enige mededinger van Toyota of Ford. Hierdie Duitse dubbelkajuit sal 0-100 km/h in slegs 7,6 sekondes behaal en die outomatiese agtgang-ZF-ratkas lewer ’n topsnelheid van 207 km/h. As jy rustig bestuur, behoort die gemiddelde dieselverbruik 9,5 liter/100km te wees.

VW bemark die kragtiger Amarok V6 in twee toerustingvlakke: Highline en Extreme.

As jou bakkiebegroting tot R921 900 strek, bied die Amarok V6 Highline verhitte leersitplekke, parkeersensors voor en agter, ’n truratkamera en 18 duim-allooiwiele. VW het ook besluit om die Amarok V6 Highline toe te rus met sterker agterste bladvere, om dravermoë te verbeter.

As jy die Amarok V6 Extreme teen R996 000 kies, is daar VW se beste leersitplekke binne die kajuit en ook ’n gevorderde inligtingtikskerm en vermaakstelsel. Die Amarok V6 Extreme het reuse 20 duim-allooiwiele, wat hierdie bakkie ’n baie sterk voorkoms gee, maar dalk nie die beste oplossing is vir ernstige veldryers nie.

Dit is merkwaardig dat VW se dubbelkajuitbakkie ná tien jaar op die mark steeds modern voel en verrigting bied wat nie deur Hilux of Ranger geklop kan word nie, al is albei hierdie bakkies veel jonger ontwerpe.