Sedert die MU-X se plaaslike bekendstelling verlede jaar, het Isuzu se sewesitplek-veldvoertuig nog altyd ietwat afgesteek teen Toyota se Fortuner en die Ford Everest met ernstige veldrywerk. Hierdie tekortkoming het niks te doen met die MU-X se ontwerp nie. Hy het ’n betroubare leerraamonderstel, goeie vering en sy 230 mm-grondvryhoogte is kenmerke wat nie te versmaai is nie.

Wat voornemende MU-X kopers afgeskrik het, was die gebrek aan ’n agterste ewenaarslot. Veldrykundiges is dit eens dat die ewenaarslot ’n onvervangbare versekeringspolis is op moeilike sandroetes of in tegniese rotsgebiede. Elektroniese kloubeheer sal in die meeste veldrytoestande die mas opkom, maar daar is oomblikke wanneer ’n ewenaarslot nie geëwenaar kan word nie.

Elektroniese kloukragverspreidingstelsels is altyd reaktief: Daar moet wieltol wees vir die stelsel om in werking te tree. Teen ’n steil rotshelling of in ’n diep Namibiese sandgat is dit daardie paar sekondes se wisselwerking - wanneer die stelsel huiwer en wieltolberekenings moet doen – wat jou laat vasval.

Met ’n ewenaarslot is daar gewaarborgde wringkragverspreiding na albei agterwiele. Vir tweewieltrekvoertuie is dit nog meer deuslaggewend omdat ’n kundige bestuurder baie verder sal kan vorder in ’n agterwieltrekvoertuig met ’n ewenaarslot as een wat slegs elektroniese kloubeheer het.

Isuzu het klaarblyklik neigings in die plaaslike mark ter harte geneem en bied nou ’n opsionele ewenaarslot op albei sy MU-X modelle. Hierdie ewenaarslot word deur Eaton verskaf, ’n gerekende Amerikaanse verskaffer van voertuigonderdele. Slim interne meganika beteken dat hierdie gevorderde ewenaarslot nie deurgaans deur ’n bestuurder aan- en afgeskakel hoef te word nie.

In gewone toestande beperk die Eaton-ewenaar gly sonder om die MU-X se draaisirkel te belemmer. Sodra die tolspoed van die agterwiele met meer as 100 omwentelings per minuut verskil, skakel ’n koppelaarstel die ewenaar se nokasplaat, wat dan die agterwiele sluit. 

Wanneer die MU-X vinniger as 30 km/h beweeg, ontsluit die ewenaar weer na ’n beperkteglyverhouding. Die ewenaar beïnvloed nie die MU-X se teerpadveiligheidstelsels nie. Teen R11 500 is hierdie Eaton-ewenaarslot 'n broodnodige verbetering op die MU-X.