Isuzu het in 2016 die X-Rider bekend gestel, met ’n oorspronklike aanbod van slegs 700 eenhede van dié weergawe van sy KB-dubbelkajuitbakkie. Die vraag na dié ryding was egter so groot dat dit uiteindelik as ’n reeksmodel ingelyf is.

Die X-Rider is gemik op Isuzu-eienaars wat ’n bakkie met meer houding wou hê en tevrede sou wees met die KB se 2.5-liter kragbron, pleks van die reekshoof se 3 l-dieselenjin. Die model heet die Black Edition en – soos die naam aandui – is dit ’n swart dubbelkajuit.

Volgens Isuzu se voertuigkleurwiel is die X-Rider Black se verfafwerking ’n spesiale ketelswart. Die gepastheid van ’n pikswart bakkie vir Suid-Afrikaanse boere kan bevraagteken word. Enige motorkenner wat al ooit ’n swart voertuig besit het, sal kan getuig dat daar twee sleutelkenmerke van ’n gitswart ryding is: Donkerkleurige bakkies word baie vinniger warm as hulle in direkte sonlig staan en enige swart metaaloppervlak is boonop ’n magneet vir vuil merke.

Bybehore wat die X-Rider Black onderskei van ander KB-dubbelkajuitbakkies is dagrit-LED’s in die kopligte, misligte in die herontwerpte voorste buffer, 18 duim-allooiwiele, treeplanke vir die kajuit en ’n rolstaaf in die laaibak, wat met ’n seilbedekking oorgetrek is. Die X-Rider Black se binneruim verbreek die oorheersende swart kleurtema ietwat met rooi stikwerk op die sitplekke se leerbekleedsel. 

Die KB250-kenteken is wyd bekend as een van die hardwerkendste boerebakkies in Suid-Afrika, van die oorspronklike KB250 wat in die vroeë 1990’s bemark is, tot die huidige turbodieselweergawes met werkverrigting van 100 kW/320 N.m, dieselfde enjin wat ook in die X-Rider Black te kry is. 

Kenners sal moontlik hierdie jongste KB250-reeksopknapping kategoriseer as ’n ryding vir die stedelike gebruiker, mense wat hoogstens hul bergfietse of tuinrommel in die laaibak gaan sit. Tog het ’n swart dubbelkajuitbakkie ’n onmiskenbare aantrekkingskrag. Kyk maar hoe gewild só ’n bakkie onder Amerikaanse boere is. 

Prysgewys pas die X-Rider Black tussen die intreevlak en die luuksste LE-gradering KB-dubbelkajuitbakkies in, met ’n prysverskil van ongeveer 10%. Togbeheer, outomatiese selfsluit- en afstandbeheersluitaksies vir al vier deure, slegs twee luidsprekers vir die klankstelsel en ’n agterruitverwarmer is van die toerusting wat by die X-Rider ontbreek wanneer jy dit met ’n LE-model vergelyk. X-Rider Black het ook nie outomatiese remkloubystand vir wanneer jy teen ’n steilte moet wegtrek nie. 

PRYS KB250 Double Cab X-Rider Black 4x2: R426 300

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.