Danksy die ingenieurspan by Rosslyn, net buite Pretoria, word jou nuwe Navara-bakkie nou plaaslik gebou, en al is die Navara al sewe jaar oud, hou dié oorskakeling belofte en groot voordele in.

Nissan het besef dat grondpadvermoë nie onderhandelbaar is vir Suid-Afrikaanse bakkiekopers nie. Gevolglik het die Navara-onderstel nou beter monteerpunte, skokbrekers en kronkelvere. Verwag ook beter padhouvermoë selfs op die swakste grondpaaie, al het jy nie ’n vrag in jou laaibak nie.

Gepraat van vrag, die bakkie se dravermoë is 100 kg meer as voorheen, teen 1200kg, danksy ’n laaibak wat hoër rante het. ’n Wringstaaf maak dit ook moontlik om die laaibak sonder moeite oop en toe te maak, wat byval sal vind by Navara eienaars met ’n kleiner bou en minder spierkrag.

Nissan se Suid-Afrikaanse ingenieurspan wou nie slegs die Navara-bestuurservaring meer selfvertroue op grondpad gee nie, maar ook gemak. Die vensterglas is gevolglik dikker om geraasvlakke te verminder.

Kopers het ’n keuse tussen twee 2.5-liter turbodiesel enjins, of ’n 2-liter petrol enjin– met die laasgenoemde wat slegs op die intreevlak enkelkajuit beskikbaar is.

Boere en diegene wat graag in Afrika toer sal die ietwat goedkoper Navara 2.5 dieselenjin, met 120kW/403Nm, na waarde skat. Hierdie enjin is meer gehard vir stowwerige Afrika-toestande en meer ekonomies in terme van brandstof. Bestuurders wat meer verrigting benodig, kan die sterker 140kW/450Nm Navara 2.5-diesel kies.

Om jou Navara op die werf of skougronde te parkeer, was nog nooit ’n kwessie gewees nie. In benoude stadsverkeer en parkeerruimtes, is die nuwe Navara egter ratser, danksy ’n vinniger kragstuur verhouding.

Nissan bakkie-aanhangers wat graag sleep, sal beïndruk wees met Navara se waentjie-swaai beheerstelsel. Dit is een van die nuwe Navara se opgraderings en wend sodra daar enige spanning is tussen die stabiliteit van jou bakkie en wat jy sleep, outomaties die regte rem-aksie aan.

Met ‘n groter aanbod plaaslike onderdele en vervaardiging, is die nuwe Navara mededingend geprys in vergelyking met Hilux en Ranger. Die intreevlak dieselmodel, ’n 2.5D XE-enkelkajuit, kos R350 000.

Die 2.5 SE is Navara se goedkoopste dubbelkajuit, met ’n R474 000 pryskaartjie. Veldryers se goedkoopste Navara is die 2.5 SE-enkelkajuit 4x4, teen R492 000.

Nissan bied nie minder nie as vyf Navara 4x4-dubbelkajuite, met pryse van R552 000 tot R740 000.