Ondanks die beknopte binneruim en ietwat ongemaklike sitposisie vir die bestuurder, het die Q3 wyd aanklank gevind, veral by vroue. Die grootte was net reg – nie so klein of laag dat hy tingerig voel nie, maar ook nie so groot dat parkering ’n onnodige probleem is nie. Daarby was sy voorkoms stylvol en vaartbelyn en daar was kragtige turbo-enjins om van te kies.

Die nuweling se fatsoen is effens stomp en meer gespierd as die oue. Hy lyk ook op ’n haar soos die Audi Q5, maar dit is onwaarskynlik dat voornemende Q3-eienaars hieroor sal kla. Die nuwe Q3 is 100 mm langer as sy voorganger – steeds kompak, maar binne is daar meer ruimte as voorheen omdat Audi die verpakking dié keer reggekry het.

Dit is nou maklik om jou sit lekker agter die stuur te kry en die agterbankers het genoeg plek vir hul knieë. Knap verpakking gee die Q3 ook ’n bagasiebak met dieselfde inhoud as die groter BMW X3, Mercedes GLC en Audi Q5 s’n, omtrent 540 liter. Hoe ry hy? Nie met die gevleuelde stewels van sy voorganger nie.

Daar’s aanvanklik net een enjin te kry: die Volkswagen-groep se turbo-aangejaagde 1,4 liter-petrol- enjin wat 110 kW en 250 Nm ontwikkel. Dit is ’n moedige kragbron, maar steek af by neef Tiguan se tweeliters, waar die dieselenjin 340 Nm ontwikkel en die petrol- enjin 350 Nm. Vir almal afgesien van die kragbeheptes behoort die 250 Nm voldoende te wees.

Onder ’n ligte regtervoet is die petrolverbruik aanvaarbaar – ongeveer 7,3 liter/100 km. Maar die enjin straf jou by die vulstasie indien jy lank in spitsverkeer was. Daar werk die enjintjie ’n raps te hard vir matige verbruik.

Die ratkas is ’n outomatiese Audi S-tronic met twee koppelaars vir gladde ratwisseling. Daar is ses ratte vorentoe. Hoewel dit voorwielaangedrewe is, trap die Q3 behendig op gruispaaie vas en seil sekuur deur skerp draaie, ook danksy elektroniese glybeheer.

Die toetskar het 18 duim-allooiwiele gedra met Hankook-bande wat sweerlik binne met malvalekkers uitgevoer is, so sag het die Q3 gery. (Wiele in groottes van 17” en 19” is ook van Audi te kry.) Die Gomma-Gomma-rit was ook verrassend omdat die toetskar met S-Line-sportvering toegerus is.

Bakbeheer deur draaie is puik, selfs al ry jy oor ’n duik in die teer wat jy nie betyds raakgesien het nie. Daar’s ook min suspensiegeraas of ander lawaai. Dit is werklik ’n eersteklasrit, met ’n tikkie sportiwiteit vir rygenot, en ’n gevoel van veiligheid.

Toerusting en toestelle. Duitse vervaardigers het gereeld onder kritiek deurgeloop omdat weinig toerusting en luukshede by hul rygoed se standaardpryse ingesluit is. Dit lyk asof Audi en Volkswagen nou meer van ’n oop hand het. Audi se uitsonderlike digitale instrumente is byvoorbeeld nou ingesluit.

Daarmee kan jy byvoorbeeld die satellietnavigasie se kaart lewensgroot laat vertoon waar die snelheidsmeter en toereteller gewoonlik is. LED-kopligte is ook standaard, en as jy wil opgradeer na die slim Matrix-LED-kopligte kos dit R7 200 pleks van meer as R20 000 soos in die verlede.

Meer veiligheidstoerusting sou nie te versmaai gewees het nie. Daar’s ses lugsakke, maar nie een vir die bestuurder se knieë nie. Die Q3 het ook nie Volvo of Subaru se veiligheidstelsels wat die pad voor dophou en vanself rem as daar ’n voetganger of voertuig skielik voor hom verskyn of gaan stilstaan nie.

Die aantreklike ontwerp en hoë gehalte van die binneruim is pure Audi. Die drie agtersitplekke se rugleunings kan afsonderlik vorentoe tiep vir meer pakplek of jy kan hulle op hul spore skuif om meer plek vir bagasie of passasiers te maak. Die bagasiebak se deksel het sowaar sy eie bêreplek onder die bodem (bo die noodwiel).

Is dit die geld werd? Ja, beslis. Die hoofrede is dat hy in die kryt kan klim met groter en duurder rygoed, danksy goeie verpakking en rygemak. Daar’s egter net een enjinmodel, wat nie besonder kragtig is nie, maar die Q3 se relatief lae gewig (1,5 ton) bevorder tog sy verrigting.

Audi bied voornemende kopers verskeie pakkette met opsionele ekstras, wat die keuses eenvoudiger maak en plek-plek redelik goeie waarde bied. Toerusting wat egter minstens as opsionele ekstras beskikbaar moet wees, is kameras en sensors wat botsings help voorkom. Die gebrek daaraan tel teen dié Audi.

Wie is die groter perde met wie die Q3 kan wedywer? Eerstens, die Mercedes-Benz GLC220d 4Matic, wat R789 136 kos. Dit is sowat R200 000 duurder as die Audi Q3 en daarvoor kry die Benz se koper ’n veel kragtiger enjin en vierwielaandrywing. As jy sonder 4x4 kan klaarkom, is die BMW X3 sDrive 18d te kry teen R651 404 en die sDrive 20i teen R661 199.

Ouboet Audi Q5 kos minstens R711 500. Daarvoor kry die koper ’n kragtige dieselenjin en quattro-aandrywing, maar nie ander noemenswaardige voordele nie. Die Jaguar E-Pace D180 AWD, wat direk met die Q3 meeding, kos ’n stewige R687 816. Al wat die Q3 nodig het om een van die wêreld se beste rygoed te wees, is ’n bietjie meer woema, verkieslik uit ’n dieselenjin.

PRYS: R565 000–R599 000 (sonder ekstras)

Toyota Land Cruiser 79 4.5D V8 Namib

toyota land Cruiser 79 Namib

Toyota het die Land Cruiser 79 Namib-dubbelkajuit onlangs op Suid-Afrika se werf losgelaat. Die ontvangs van dié V8-dubbelkajuit was hartlik, ondanks die fris verkoopprys. Die eerste besending van 60 is flink by handelaars afgelewer en nou bou Toyota dubbel soveel van hulle vir die tweede besending.

Altesame 60 van die tweede besending van 120 is enkelkajuitbakkies, “omdat klante en handelaars daarvoor gevra het,” sê ’n woordvoerder van Toyota Suid-Afrika. Die bakkies word in Maart 2020 hier verwag.

Die Namib-enkelkajuit se prys is nog nie bekend nie, maar hy sal waarskynlik nes die dubbelkajuit ook R117 300 duurder wees as die variant waarop hy gebaseer is. Vir dié hoop geld kry die koper onder meer spesialis-suspensie, 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx-bande aan 16”-allooiwiele, ’n voorste buffer van staal, bykomende LED-springhaasligte en ’n effens luukser binneruim.

En voordat dinge uitspattig raak: die bakkleur is wit of beige, finish en klaar. Die Namib se enjin is die ontspanne V8-turbodiesel van 4,5 liter, wat 151 kW en 430 Nm ontwikkel wanneer hy op stoom is. Toyota dui sy verbruik as 11,3 liter/100 km aan.

PRYS: R893 600 (dubbelkajuit)

Opel Corsa GSI

Opel Corsa GSI

In die laat 80’s het die letters GSI op ’n Kadett se agterstewe beteken hy gaan elke straatren wen. Daai GSI kon 100 km/h van stilstand in net 8 sekondes bereik en ’n topsnelheid van 217 km/h haal – blitsvinnig vir sy era. Dit is dertig jaar later en Opel het die GSI-kenteken weer uit die pakstoor gehaal en op die Corsa se boud gaan plak.

Maar onder die enjinkap is die hout effe nat: Die 1,4 liter-enjin is weliswaar met ’n turbo bedeel, maar ontwikkel net 110 kW en 220 Nm, teenoor die “klassieke” Kadett GSI se tweeliter wat 110 kW en 196 Nm kon uitskop. En dit is ’n bietjie hartseer. Tog is dit nie genoeg rede om 2019 se Corsa GSI op die ashoop te gooi nie, want ’n sportiewe ryding roem hom nie alleen op versnelling nie.

Hy moet ook met selfvertroue en vernuf deur ’n draai kan vlieg, terwyl die stuur jou deurentyd laat weet presies wat die voorwiele doen. Hierin slaag die GSI, en sy akkurate stuur reageer boonop blitssnel, soos dit ’n sportmotor betaam. Die nadeel van ’n oorvloed krag deur die voorwiele is dat dit van nature met die stuurfunksie inmeng.

As die GSI se enjin heelwat kragtiger was, is bestuursgenot dalk ingeboet. En om die waarheid te sê, as mens ’n kampusmotor vir jou kind koop, is ’n kalmer enjin ’n bedekte seën.

Omdat die Corsa GSI sportsuspensie en laeprofielbande het, is die rit soms stamperig en eienaars sal sinkplaatpaaie dus tot elke prys wil vermy. Vir die bestuurder en voorste passasier het die GSI stylvolle Recaro-skottelsitplekke. Jy kan dié stoele met die druk van ’n knoppie opwarm, maar daar’s net een verstelling en dit is vuurwarm – genoeg om brood te bak.

Ander glanspunte van die GSI is dat hy die bestuurder in die ry kan waarsku teen gevare voor hom en hy sal protes aanteken as die bestuurder toelaat dat die motor uit sy baan dwaal. Ses lugsakke help om die insittendes te beskerm as ’n botsing sou gebeur.

Met ’n prys van R365 900 is die Corsa GSI R50 000 duurder as die vinniger Suzuki Swift 1,4T Sport (R315 900), maar die Opel is luukser, veiliger en bied meer padgreep – wel ten koste van ritgerief. Die nuwe Corsa-reeks sal volgende jaar hier sy buiging maak.

PRYS: R365 900