Jare se troue diens in die strafste woestynomgewing het ’n legende van die 70-Reeks Land Cruiser gemaak en om dit te huldig, bied Toyota Suid-Afrika nou ’n nuwe Land Cruiser 79-model.

Al is die blokvormige Land Cruiser-bakkie al lank in die tand, met ’n ontwerp wat sy oorsprong kan terugpeil na die 1980’s, bly die vraag na hierdie kanniedoodbakkies sterk.

Met die nuwe Land Cruiser Namib het Toyota Suid-Afrika al die toerusting wat jy begeer vir ’n avontuurvoertuig, klaar aangeskaf en oorgebou.

Van voor word die Namib onderskei van ander Land Cruiser-bakkies deur ’n nuwe sierrooster. Die standaardbuffer word ook vervang deur ’n sterker staalweergawe, wat ook twee LED-ligte en ’n bosbreker huisves.

Toyota besef dat enige bakkie wat tot Namib herdoop word, sonder moeite duine moet kan ry. Om te verseker dat daar oorgenoeg loop-oppervlak is wanneer banddruk in sagte sand verlaag moet word, ry die Land Cruiser Namib op 265/75/R16 Cooper Discoverer S/T Maxx-bande.

Namibiese boere ry reuse-afstande dorp toe en Toyota het besef dat die plekke waar ’n Land Cruiser-bakkie gaan toer, dikwels nie selfoonopvangs het nie. Gevolglik is daar ’n monteerplek vir ’n tweerigtingradio en ’n hak vir die mondstuk.

In die Namib se dakpaneel is beheerknoppies vir ’n reeks bykomende LED-ligte, wat die binneruim kan verhelder wanneer ’n tent opgeslaan of ’n kaart gelees moet word.

Al is ’n Land Cruiser-bakkie gehard, beteken dit nie dat passasiers ’n ongemaklike ervaring hoef te ervaar nie. Toyota het ’n reeks sitplekoortreksels ook bygevoeg, wat die oorspronklike bekleedsel onbeskadig sal laat bly, selfs ná jare se veldwerk.

Daar is ook ’n verkoelingsfunskie in die voorste paneelkissie, wat bedien word deur die lugversorging en sodoende vloeistowwe kan koel hou op die langpad deur enige woestyn.

Meganies het Toyota nie juis gepeuter aan die Land Cruiser 79-wenresep met sy Namib-weergawe nie. Aandrywing is steeds deur ’n vyfganghandrat, met laestrekratte en drie ewenaarslotte. Die V8-turbodiesel van 4,5 liter wek 151 kW en 430 N.m op, wat oorgenoeg krag is om hierdie Land Cruiser teen die steilste helings te laat uitry.

Die enigste tegniese verbeterings is klein veranderings aan die veringstelsel, wat steeds vaste aste is, maar met ’n beter ritgehalte.

Teen R893 600 word hierdie Land Cruiser Namib-dubbelkajuit die duurste Toyota-bakkie nog.