Lexus NX 300 F Sport

Kyk ’n mens na ’n 1959-Cadillac, met sy lang vinne en vuurpyl-stertligte, was ruimtereise beslis die inspirasie daarvoor. Net so is die stilering van Lexus se kompakte melkbaard-veldvoertuig, die NX, ook ietwat oordrewe. Dit lyk of die ouens wat hom geskets het as kinders heelwat Top Gun en Transformers ingekry het. Sy ontwerp is beslis treffend.

Op sy webwerf noem Lexus die NX “nuut”, maar hy is eintlik al drie jaar met ons. Hy kry net nou die gebruiklike verjongingskuur. Onder sy teenstanders tel die Volvo XC60 en BMW X3, albei splinternuut. Wat is nuut? Aan die buitekant het Lexus omtrent net die kopligte se ontwerp verander en hom na binne gewend.

Hier is nou ’n groter inligtingskerm met ’n skerper beeld en die skakelaars en knoppies op die voorpanele is makliker om te gebruik. Om die klankstelsel of ingeboude GPS te gebruik, moet ’n mens steeds met ’n groot beheerknop sukkel. Dit herinner aan ’n rekenaarmuis wat in ’n groef vassit.

Aan die kredietkant is daar sitplekke wat jou lyf lekker vashou en steun, die agterste bank is betreklik ruim, die bagasiebak is groot en oral voel en sien ’n mens die stewigheid en gehalte waarvoor Lexus bekend is.

Die enjin is onveranderd: ’n tweeliter-turbo (petrol) met heelwat skop. Lexus het hom vroeër die 200t genoem, maar nou heet hy slegs “300” omdat sy krag glo soortgelyk aan ’n drieliter-enjin (sonder turbo) s’n is. Dit is gekoppel aan ’n gewone outomatiese ratkas met ses ratte vorentoe, wat sy werk gladweg doen.

Die NX 300 F Sport (R797 500) waarmee ons gery het, het aanpasbare vering vir gerief op ruwe paaie en die beste moontlike padhouvermoë op teer.

Hy kos R113 000 meer as die NX 300 EX (R685 100), wat goed sal regkom sonder die F Sport se spesiale skokbrekers en ander ekstras.

Prys: R606 000 tot R797 500

Jaguar E-Pace

Jaguar E-Pace

In die 1970’s en 1980’s wou die hele wêreld Jaguar se lang, slap XJ-sedan hê. Dié motor is selfs in Kaapstad vervaardig – tot 1981. Deesdae verkoop Jaguar-sedans in klein getalle. Sterk verkope van die Hyundai Creta, Toyota RAV4 en Mazda CX-5 dui op motoriste se onversadigbare lus na klein, kamma-veldvoertuie.

Ook Jaguar ontgin nou dié neiging en hy het onlangs die E-Pace, wat by die groter F-Pace aansluit, plaaslik bekend gestel. Dis goeie nuus, want die E is goedkoper as die F, bestuur lekkerder en sy binneruim is nie veel kleiner nie. Die E-Pace is swaar vir sy klas, maar op die pad voel hy stewiger, ratser en kragtiger as die F-Pace.

Die E-Pace se pryse strek van sowat R605 000 tot R865 000, maar selfs die intreevlak-weer- gawe is goed toegerus. Elkeen het ’n kragtige petrol- of dieselenjin, vierwielaandrywing en ’n outomatiese ratkas met nege ratte vorentoe. Jaguar sê die E-Pace kan deur water ry wat ’n halwe meter diep is. Ongelukkig het almal Jaguar se raakskerm-inligtingstelsel, wat pynlik is om te gebruik.

Die nuwe E-Pace is ’n bekwame voertuig, maar daar is elders beter waarde, met luuksheid, styl, gerief en verrigting in sterk dosisse, vir minder geld. Die vernaamste is die briljante Mazda CX-5 2.2 DE Akera en waarskynlik ook die nuwe Volvo XC40, die Subaru Forester en die onderskatte Land Rover Discovery Sport. Maar as jy ’n klein kat móét hê, sal jy dolgelukkig wees met dié Jaguar.

Prys: R605 000 tot R865 000