Dit is juis in hierdie marksegment waar die Indiese vervaardiger Mahindra & Mahindra Ltd met ten minste een ander Indiese voertuigvervaardiger, asook ’n paar Chinese voertuigvervaardigers moet skouers skuur.

Mahindra se jongste geslag Pik Up spog met ’n vars (aan)gesig wat ’n groter teenwoordigheid op die pad en in parkeerruimtes verleen. Daar is baie aandag gegee aan die stilering om ’n meer duursame kajuitruimte te skep. Die hoë vlak van die standaardtoerusting bied nou ook veel beter waarde vir geld.

Aandrywing geskied deur ’n gewillige viersilinder-turbodieselenjin van 2,2 liter en ’n sesgang-ratkas. Hierdie enjin lewer 103 kW en sy wringkraghoogtepunt van 320 N.m is vanaf 1 600 r/min. tot 2 800 r/min. beskikbaar. Dit belowe nie net goeie versnelling nie, maar dit kan glo ook vragte van tot 2 500 kg baasraak.

Naas die normale 4X2-aandrywing is die nuwe reeks ook beskikbaar met 4X4-aandrywing, ’n laestrek-oordraratkas en ’n meganiese ewenaarsper.


Mees opvallende verbeterings

Benewens die moderne kajuitafwerking sluit die buite-ontrimpeling nou ook netjiese misligte en 16 duim-allooiiwielvellings in.

Volgens mnr. Sanjoy Gupta, Mahindra SA se bedryfshoof, is Suid-Afrika ’n strategiese sleutelmark vir die maatskappy wat al meer as ’n dekade lank plaaslik sake doen. Hy glo die nuwe Pik Up-reeks se meer moderne en aantreklike binneruim sal die kliënteprofiel vergroot en Mahindra help om sy posisie in die plaaslike bakkiemark te verstewig.

Die opvallendste verbeterings in die kajuitruimte is die bekleedsel en ’n 6 duim-kleurraakskerm in die middelkonsole van die S10-dubbelkajuite . . . om nie eens te praat van die afstandbeheer-sluitstelsel, spoedbeheer, navigasiestelsel en die veelfunksie-stuurwiel nie!

Wat veiligheidskenmerke betref, is daar kenmerke soos ’n sluitweerremstelsel (ABS) en elektroniese remkragverspreiding (EBD). En as sake dan wél handuit ruk, is daar dubbele lugsakke, frommelsones en ’n wegvou-frommelstuurkolom . . .

Daar is vier modelle in die enkel- en dubbelkajuitbakkiereeks beskikbaar. Die pryse strek van R187 995 tot R354 995. Die Pik Up-reeks word gerugsteun deur ’n waarborg van 4 jaar en/of 120 000 km, met padbystand en ’n diensplan van 5 jaar en/of 90 000 km. Die versieningsintervalle is elke 20 000 km of elke 12 maande.