Die indrukwekkende nuwe BT-50 sal later vanjaar by Suid-Afrikaanse Mazda-handelaars beskikbaar wees. Met ’n onderstel en dieselenjin wat hoofsaaklik deur Isuzu ontwikkel is, word hoë verwagtinge gestel aan die nuwe BT-50.

Mazda se bemarkingsmense besef dat geen bakkiereeks sonder ’n kroonmodel kan meeding nie. Ford se Raptor/Wildtrak en die Toyota Hilux Legend RS bewys dat bybehore die verbeelding van dubbelkajuitkopers aangryp.

Die nuwe BT-50 beloof om ’n kroonmodel te bied onder die Thunder-naam. Volgelinge van Ford-bakkies sal die bemarkingskuif bevraagteken, omdat daar reeds ’n Ranger Thunder-bakkie is, maar Mazda glo in die onafhanklikheid van sy besluit.

Te danke aan ’n staalvoorbuffer wat sorg vir ’n beter hindernisaanvalshoek, is die BT-50 Thunder ’n kraniger veldryer vergeleke met ander Mazda-bakkies. LED-ligte word op hierdie staalbuffer gemonteer, wat selfs die donkerste veldryroete deur ’n skeurvallei sal verhelder.

Met ’n geharde staalonderbou behoort die BT-50 Thunder se nuwe buffer ook ’n wenas te kan huisves, vir diegene wat gereeld op hul eie die vreemde aandurf en op hul eie ’n voertuigherwinning moet kan uitvoer.

In die reusewielboë rol 18 duim-wiele met twaalf speke en Bridgestone Dueler H/T-bande. Ervare veldryers sal weet dat hierdie bande se loopoppervlak redelik maklik verstop met klei of modder, maar vir algemene teer, grondpad of duine is die Dueler H/T-bande opgewasse.

Kajuitsytrappe maak dit makliker om in en uit die BT-50 Thunder te klouter, en voorkom ’n moddervlek op jou broek. In die laairuimte is daar ’n staalrolstaaf en vir bakkie-eienaars wat die moeite van ’n handverstelde laaibakbedekking verpes, het die BT-50 Thunder ’n elektronies beheerde deksel.

Mazda het glad nie gepeuter met die BT-50 Thunder se 3 liter-turbodieselenjin nie. Dit lewer 140 kW en 450 Nm, met al die betroubaarheid wat gepaard gaan met enige Isuzu-dieselkragbron.

Daar is geen twyfel dat Mazda se Thunder-weergawe van die nuwe BT-50 aandag trek nie. In ’n mark waar spogbakkies se voorkoms baie belangrik is, het Mazda ’n netjiese dubbelkajuit in hierdie nuwe BT-50 Thunder.

Isuzu sal beslis kennis neem van Mazda se jongste skepping. Hierdie dubbelkajuit-4x4 se opgradering is ’n voorbeeld van die 100 bybehore wat deel uitmaak van die nuwe BT-50-reeks, en dit kan kopers oortuig om eerder ’n Mazda as ’n Isuzu te koop.