Sowat twee jaar nadat Mercedes-Benz ’n nuwe prysplafon vir dubbelkajuitbakkies gestel het, blyk dit dat dinge nie voor die wind gaan met hierdie luukse Duitse bakkie nie.

Anders as sy meeste mededingers maak Mercedes-Benz nie sy maandelikse verkope per model bekend nie. Die tekens is egter dat die X-Klas nie aan die verkoopsverwagtinge voldoen nie.

Mercedes het bevestig dat die X-Klas se teenwoordigheid nie na sterk bakkiemarkte soos Suid- en Noord-Amerika uitgebrei gaan word nie. Die enigste rede hoekom ’n bakkie nie in daardie markte staanplek probeer kry nie, is dat die bemarker meen daar is nie ’n vraag na die produk nie.

Volgens Europese handelsblaaie het Mercedes-Benz verlede jaar slegs 16 000 X-Klas-bakkies wêreldwyd verkoop. Vergeleke met mededingers se syfers is dié syfer ’n reuse-teleurstelling. Toyota het in dieselfde tydperk 548 313 Hilux-bakkies verkoop.

Mercedes-Benz se verskaffingsketting vir die X-Klas is vanweë bedryfskwessies by Nissan ook onder druk. Die Japannese vervaardiger se wins het tot dusver vanjaar ’n ineenstorting beleef. Nissan bou die X-Klas op kontrak in sy Barcelona-aanleg.

Hoe kon Mercedes-Benz, as ’n ervare en bewese voertuigvervaardiger, hom heeltemal met die bakkiemark misreken het? In beginsel word ’n eenvoudige ontwerpproses vir bakkies gevolg, terwyl hulle in die algemeen ook maklik is om te bou vanweë die leerraamonderstel.

Die verklaring vir X-Klas se treurige verkoopsyfers is eenvoudig: prys. Mercedes-Benz het geglo dat hy die bakkiemark kan verower deur die prysstruktuur van luukse motors op die X-Klas toe te pas.

Bakkiekopers is skerp ingestel op tegniese kenmerke en die X-Klas het bloot nie genoeg eie, of gevorderde, ingenieurskenmerke om die prys te regverdig nie.

Die X-Klas is veel duurder as enige mededinger, tot 20% duurder as die meganies soortgelyke Navara. Vir kopers wat ’n Duitse dubbelkajuitbakkie met V6-turbodiesel krag begeer, is VW se Amarok ’n baie oortuigende keuse, en veel goedkoper as die X350d.

Marcus Breitschwerdt, Mercedes-Benz se grootbaas van bakkies en ligte handelsvoertuie, het bevestig dat die X-Klas nie aan verkoopsverwagtinge voldoen nie en ’n nisproduk is. Ola Källenius, Mercedes-Benz se nuwe uitvoerende hoof, is nie beïndruk met die maatskappy se handelsooreenkoms oor die X-Klas met Nissan nie.

Sake-skandale by die Japannese vervaardiger kan veroorsaak dat Mercedes-Benz alle bande met Nissan breek, wat die Duitse maatskappy sonder ’n bakkieplatform vir die vervaardiging van die X-Klas kan laat.

As die X-Klas se trae verkope aanhou, is die moontlikheid groot dat Mercedes-Benz nie in ’n opvolger sal belê nie en dat die X-Klas ’n stille dood sal sterf.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.