Mercedes-Benz is dalk sinoniem met luuksheid, maar die Duitse vervaardiger se voertuie skrik nie vir veldry nie. Daar is min 4x4-mededingers wat kan kers vashou by ’n Unimog of Geländenwagen, twee van Mercedes-Benz se legendariese veldrywerkesels. ’n Nuwe batteryaangedrewe veldwa is egter nou op die horison.

Mercedes-Benz besef dat elektriese voertuie met batterykrag die maatskappy se toekoms is. Die maatskappy se eerste ernstige batteryaanbieding is sy EQS-sportnutsvoertuig.

Aangedryf deur twee elektriese motors, een op elke as, bied die EQS 400 reusekraglewering en wringkragsyfers van onderskeidelik 300 kW en 760 Nm. Doen die berekening dat al 760 Nm beskikbaar is sodra die wiele begin rol en veldrykenners se verbeelding word onmiddellik aangegryp deur die moontlikheid van reuseklimvermoë.

Mercedes-Benz sien duidelik die belofte van ’n elektriese veldwa met ernstige klouter- en hindernisvermoë. Om te bewys wat die EQS kan vermag, is daar nou ’n 4×4². Moet geen fout maak nie: Daardie magswortel is nie wensdenkery deur Mercedes-Benz se bemarkingspan nie.

Van die Duitse maatskappy se knapste ingenieurs is die geleentheid gebied om hul verbeelding vrye teuels te gee en hulle het ’n ongelooflike nuwe veldwa geskep. Met ’n grondvryehoogte van 293 mm staan die batteryaangedrewe EQS 4×4² Mercedes-Benz-stasiewa hoër as ’n Geländenwagen.

Die EQS 4×4² se aantreehoek van 31,8° en vertrekhoek van 33° is net so indrukwekkend. Met al die kernveldryafmetings wat beter is as Mercedes-Benz se geharde Geländenwagen, en reusewringkrag wat teen kruipsnelheid al vier wiele aandryf, is die EQS 4×4² amper onstuitbaar deur hindernisse wat die meeste ander veldryvoertuie sal verslaan.

Hoe het Mercedes-Benz se ingenieurs die EQS 400 se grondvryehoogte verhoog van 140 mm tot 293 mm? Die antwoord is portaal-asse, wat ’n skakeling ratte binne die onafhanklike wiele dryf. Dit is iets wat vir dekades al beproef is in die reeks Unimog-veldryvragmotors en nommerpas werk met hierdie EQS 4×4² se elektriese dryfstelsel.

Gaan hierdie stylvolle veldwa binnekort te koop wees?  Mercedes-Benz gesels trots oor sy EQS 4×4² se vermoë, maar wil nog niks sê oor ’n leweringsdatum nie.

As gekyk word na uitsonderlike Mercedes-Benz-veldryvoertuie wat eers as vertoonstukke gebou is, en daarna die mark betree het, is die moontlikheid om in die toekoms ’n EQS 4×4² te kan koop, redelik goed. Die maatskappy se vorige 4×4² was ’n ombouing van die Geländenwagen, wat in 2017 in beperkte hoeveelhede te koop aangebied is.