As jy V6-verrigting soek in dubbelkajuitbakkie, tesame met suinige dieselverbruik, was jou keuses tot onlangs baie beperk. Gelukkig tree verandering stadig maar seker in die plaaslike bakkiemark in omdat Duitse vervaardigers skielik besef het dat Toyota en Ford ’n gaping in die mark gelaat het vir ’n goeie V6-dieselenjin.

Volkswagen kan nie byhou met sy besending Amarok V6-bakkies nie. Om uit dié belangstelling voordeel te trek kry die Amarok ’n Duitse 3 liter-teenstander met die Mercedes-Benz X350d wat vroeg volgende jaar by handelaars sal wees. 

Die X-klas verkoop tans net in X250d-gewaad en daardie viersilinderenjins is suiwer Nissan, sonder Duitse ingenieursinsette. Boere wat die krag van ’n V6-dieseldubbelkajuit verlang en verkies om in die openbaar eerder agter ’n driepuntster-kenteken gesien te word as Wolfsburg se V-op-W-handelsmerk, behoort gaande te wees oor die nuwe X350d. Hulle kan ook roem dat die X350d ’n egte Mercedes-bakkie is, pleks van ’n Nissan-kruising.

Vir Mercedes se ingenieursbeeld is die X350d deurslaggewend: ’n Ware X-klas-bakkie met ’n Benz-enjin, gebou in Berlyn.

Kraglewering is tamaai teen 190 kW en wringkrag ook, met 550 N.m wat die wiele draai. Al trek die X350d ’n baie stewige 2 285 kg op die skaal, swaarder as enige mededinger, is die V6-Mercedes se versnelling (0-100 km/h in 7,5 sekondes) en topspoed (205 km/h) ongeëwenaar.

Tydens die internasionale bekendstelling in Slowenië het ons die Alpe se nou valleie verken op helderwit kalksteengrondpaadjies. Teen luierspoed verraai die V6-enjin glad nie dat 50 dpm-diesel pleks van loodvrye petrol verbrand word nie, te danke aan die X350d se kajuit wat beskik oor vlakke van klankdigheid wat gewoonlik ? C-Klas omvou.

Sodra die regterpedaal geroer word, is dit egter duidelik dat die X350d uiters ywerig is. Soos die V6-enjin is X350d se outomatiese sewegangratkas ook Mercedes se eie ontwerp en die meganika het ’n uitstekende voorgevoel vir enige helling of wanneer daar ’n vereiste vir versnelling is. As jy met selfvertroue ’n swaar vragmotor of drie wil verbysteek met ’n vol vrag op die laaibak, is hierdie Benz-bakkie vir jou.

Veldvermoë is gedug met 222 mm se grondvrye hoogte en ’n waterhindernisgradering van 600 mm. Mercedes sal drie wielkeuses bied vir plaaslike X350d-kopers, van 17 duim tot 19 duim, na gelang van die vlak van veldry of dravermoë wat benodig word. Vir meeste boere sal die 17 duim-wiel, met lekker vet 255/65-bande, ’n aangewese keuse wees.

Daar is geen twyfel aan die gesag van hierdie V6-Mercedes-bakkie se verrigting, dravermoë of bestendigheid teen hoë snelhede nie. Daar is egter ’n haakplek of twee in die ontwerp, meestal binne. Die stuur beskik nie oor diepteverstelling nie, van die skakelaars sit op moeilik bereikbare plekke en die aanwesigheid van ’n rathefboom tussen die voorste sitplekke is ’n vermorsing van beenruimte. Alle Mercedes-voertuie het ’n stuurkolomhefboom vir ratte en ook diepteverstelling vir die stuurwiel self, wat dit nog vreemder maak dat Stuttgart se spogbakkie daarsonder is.

Die prys van die X350d is nog nie bekend nie, maar as die X-klas se viersilinderbakkies as ’n vertrekpunt vir berekening gebruik word – en die rand nog verder verswak – is die moontlikheid vir Suid-Afrika se eerste miljoenrandbakkie groot.