Twaalf oorwinnings in die moordende Dakartydren het Mitsubishi se beeld gebou as ’n vervaardiger van uiters betroubare veldvoertuie. Die voertuig wat Mitsubishi se Dakaroorwinnings moontlik gemaak het, was die Pajero. Plaaslik spog die Pajero Sport spog nou ook met ’n reeks verbeterings. 

Die mark vir veldvoertuie met ’n leerraam-onderstel is uiters straf in Suid-Afrika. Die Pajero Sport dinge mee met die Toyota Fortuner, die Ford Everest en die Isuzu MU-X.

Isuzu het met sy Frontier in die laat 1990’s die mark geskep en toe laat vaar, maar Toyota se Fortuner het uiteindelik bewys dat Suid-Afrikaanse gesinne soms iets met meer weer- en stofbestande pakplek nodig het as ’n dubbelkajuitbakkie. 

Sterk punte

Die Pajero Sport se sterk punte was nog altyd Mitsubishi se vindingryke SuperSelect-4x4-dryfstelsel – ’n uitvloeisel van ontwikkelingservaring tydens die Dakar – en sy sleepvermoë. Die jongste reeks verbeterings maak die Pajero Sport ’n beter sleep- en toervoertuig vir die hele gesin. 

Meganies is daar nie veel verander nie. Die Pajero Sport se kragbron is steeds ’n viersilinderturbodiesel van 2,4 liter wat 133 kW en 430 N.m lewer. Albei die Pajero Sport-modelle, 4x2 en 4x4, wissel ratte met ’n outomatiese agtgangratkas, wat ook tikratskakelaars agter die stuurwiel het. Vir kranige veldryers is Mitsubishi se SuperSelect-stelsel op die 4x4 steeds goud werd.

Mitsubishi kon nog altyd roem op sy vierwieltrekstelsels wat drie verstellings bied. In hoëstrekratte is daar ’n 40/60- of 50/50- geslote middelasverdeling in krag tussen die voor- en agterwiele, met die gebruiklike laestrekratte ook nog beskikbaar vir uiters strawwe hindernisse. 

Die groot nuus vir sleepgeesdriftiges is dat die Pajero Sport nou ’n groter gewig kan haak: 2 700 kg vir die agterwielaangedrewe model en 2 790 kg vir die 4x4. As jy gereeld die perde na ’n uithourit neem, sal die bykomstige sleepgewig baie welkom wees. Dit is ’n reuse-verbetering op die 1 800 kg-gradering wat tot nou toe geheers het vir albei Pajero Sport-modelle.

Benewens die verbeterde sleepvermoë is daar ook bykomstige veiligheids- en geriefstoerusting. Die Pajero Sport se binneruim word nou beveilig deur sewe lugsakke, met ’nn kniehoogte-lugsak aan die bestuurderkant wat ’n aanwins is. Dit is ’n verbetering op die ses lugsakke waarmee die huidige Pajero Sport verlede jaar op die mark gekom het. Vir ouers se kosbare kleingoed is daar nou ook die gemak van ISOFIX-kinderstoelankerpunte.

Soos talle veldvoertuigeienaars droom sommige bestuurders van die Pajero Sport om weg te breek met hul wiele, maar die waarheid is dat ons hedendaagse skootrekenaar en slimfoonlewenstyl maar oral saamgaan. Om almal se elektroniese hulpmiddels gelaai te hou, kan maar bars gaan as jy slegs gewone binneruimkragpunte het. Mitsubishi se oplossing is ’n herlaaipunt binne die opgeknapte Pajero Sport wat 120 W lewer en baie vinniger ’n skootrekenaar of slimfoon kan laat herleef as jou batterylewe byna daarmee heen is. 

Die verbasende feit is dat al die bogenoemde verbeterings jou nie ’n enkele rand meer uit die sak sal jaag nie. Die Pajero Sport se verhandelingsprys is steeds R569 995 vir die 4x2 en R619 995 vir die 4x4.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.