Byderwetse ontwerpe vind egter nie altyd aanklank by plaaslike bakkie-eienaars nie. Mitsubishi het hierdie les geleer met sy derdegeslag Triton, wat afgeronde hoeke en ’n skulpvormige neus gehad het, alles ter wille van beter voetgangerveiligheid in ’n botsing.

Toe dié Triton in 2007 bekend gestel is, was die voorkoms veels te vreemd en talle getroue Mitsubishi Colt-dubbelkajuiteienaars het eerder hul ryding iewers anders gaan soek. Mitsubishi se markaandeel in Suid-Afrika is baie kleiner as in die vroeë jare 2000, toe drie verskillende bakvorme van die Colt die Japannese vervaardiger met ’n gerekende Dakar-veldwedrenreputasie gelaat het.

Die jongste Triton-bakkie, ’n vernuwing van die vyfde geslag, is pas bekend gestel en behoort vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar te wees. Om aandag te trek in die mededingende plaaslike bakkiemark het Mitsubishi die Triton herontwerp met ’n ongewone voorkoms.

Meganies is daar nie reuse-veranderings nie, maar die nuwe Triton se voorkoms is baie treffend, met dun reghoekige hoofligte en ’n reuse-sierrooster. Van agter is die voorkoms ietwat meer bedees en binne is daar min veranderinge van die huidige Triton. Waar Mitsubishi die ontwikkelingsbegroting bestee het, was vir ’n herontwerpte ratkas en veiligheidsingenieurswese.

Die nuwe Triton word deur Mitsubishi se beproefde 2,4 liter-viersilinder-turbodieselenjin aangedryf, met kraglewering van 133 kW en 420 N.m. Die outomatiese ratkas is een rat vorentoe ryker. Hierdie nuwe sesgangratkas behoort beter dieselverbruik en inratversnelling te bied as die vorige vyfgangratkas.

Mitsubishi is bekend om sy SuperSelect-vierwieltrekstelsel, wat drie dryfskakelings bied, anders as al die bakkiemededingers se twee. Triton bou voort op die SuperSelect-dryfstelselerfenis. Meganies is daar steeds ’n keuse tussen twee hoëstrekverstellings (een met die sentrale ewenaar oop, die ander gesluit) en laestrekratte vir ernstige veldry.

Elektroniese kloubeheer word nou ook bygereken as die SuperSelect-stelsel in sy laestrekratte loop en daar is groter volume skokbrekers op die agteras, wat goeie hoësnelheidvastigheid op sinkplaatgrondpaaie tot gevolg behoort te hê. Wêreldwyd is daar toenemend druk op bakkievervaardigers om hul voertuie meer ongelukbestand te maak.

Die Triton het ’n reeks slim tegniese oplossings om ongelukke te help voorkom. Triton gebruik ’n radarstelsel om teen snelhede onder 140 km/h onafhanklike noodremingryping te bied. As die bestuurder nie ’n stilstaande voertuig of voorwerp in die pad raaksien nie, en te lank aarsel, sal die bakkie onafhanklik ’n noodremaksie uitvoer om ’n ongeluk te voorkom.

Vir diegene wat senuagtig raak oor parkering in nou stedelike ruimtes is daar ’n kamerastelsel wat die bestuurder ’n geheelbeeld reg rondom die voertuig bied. Sensors in die bak kan ook naderende kruisverkeer herken in jou blindekol as jy in trurat uit ’n parkeerplek beweeg, en genoeg waarskuwing bied om ’n botsing te voorkom.

Na verwagting sal die nuwe Triton vroeg volgende jaar in Suid-Afrika beskikbaar wees, met Mitsubishi se eerste besending bakkies wat teen einde Maart by plaaslike handelaars behoort te wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.