Volkswagen en Ford het bevestig dat dié twee motormaatskappye voortaan vennote gaan wees.

Die nuus kom nadat die motorbedryf wêreldwyd ’n onstuimige 2018 beleef het. Die ooreenkoms is ’n teken dat toonaangewende motormaatskappye glo hulle moet saamwerk om te oorleef. Volkswagen en Ford se ooreenkoms is gegrond op samewerking met betrekking tot die maatskappye se bakkies en veeldoelige afleweringsvoertuie.

Ford en Volkswagen het albei ’n taai tyd agter die rug. Volkswagen se ontwikkelingskapitaal is verminder deur reuseboetes wat in Amerika betaal moes word weens kullery in verband met koolsuurgasvrystelling, terwyl Ford se sake-eenheid vir passasiersvoertuie besig is om in duie stort.

Bakkies is die kern van hierdie vernootskap. Ford sal die verantwoordelikheid neem vir die ontwikkeling van Volkswagen se bakkies in alle markte buiten Amerika. Die eenvoudige gevolgtrekking is dat die volgende geslag Amarok hoofsaaklik ’n Ford-onderstel sal hê, een wat ontwikkel is in die Amerikaanse maatskappy se bakkie-ingenieurswesesentrum in Melbourne, Australië.

Goeie nuus vir Suid-Afrika

Vir Suid-Afrikaners is dit goeie nuus, omdat plaaslike marktoestande en vereistes baie nader is aan die Australiese omgewing as dié in Europa. Die verwagting is dat Ford se volgende geslag Ranger en Volkswagen se volgende geslag Amarok ’n samestelling van die beste kenmerke van albei sal hê; ’n beproefde werksbakkie, met die bestuursgemak van ’n passasiersvoertuig en langafstandtoervermoë.

Volkswagen kry toegang tot ’n toonaangewende bakkie-ontwikkelingspan. Wat kry Ford in ruil vir sy enkel- en dubbelkajuitkennis? Die Amerikaners het nie onderstelle of batterye vir ’n elektriese voertuig nie en Volkswagen het onlangs die MEB-onderstel bekend gestel.

Dit is die resultaat van ’n ingenieursprojek wat R700 miljard gekos het. Die onderstel is hoogs aanpasbaar en een van dié Duitse maatskappy se grootste tegniese prestasies. Die MEB-onderstel is batteryaangedrewe met aanpasbare asafstande. Volkswagen het bevestig dat twee weergawes van die MEB vir produksie goedgekeur is, een vir passasiersvoertuie en ’n ander vir voertuie wat ’n vrag moet dra.

’n Deel van die ooreenkoms tussen Ford en Volkswagen is dat die Amerikaners groot bussies sal ontwikkel en die Duitsers ’n gesinsbussie, kleiner as die huidige Kombi. Dit is juis hier waar ’n laaivragweergawe van die MEB-onderstel van onskatbare waarde sal wees. Volgens die nuwe ooreenkoms is dit onduidelik of hierdie laaivragweergawe van die MEB-onderstel slegs vir passasiersvoertuie aangewend sal word, of ook in ’n bakkie beskikbaar sal wees.

Die slotsom van hierdie ongewone vennootskap tussen Ford en Volkswagen is dat die Duitsers hulp nodig het om die Amarok se toekoms te verseker. Die Amerikaners soek op hul beurt na moeilik bekombare tegnologie vir elektriese voertuie.

Plaaslike bakkiekopers kan verwag om die eerste gesamentlike bakkies van Ford en Volkswagen teen laat 2022 by handelaars te sien.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.