Land Rover is nie skaam om in die verlede te oes vir nuwe bemarkingsplanne nie. Die Britse veldvoertuigmaatskappy het weer sy ou Defender laat herleef, vir ’n baie beperkte aantal peperduur Land Rovers.

In die dae voor slimfone, sosiale media en laesuikerborreldrankies was elke 4x4-aanhanger se droom ’n geel Camel Trophy Defender. Beelde van hierdie voertuie, verby hul deur toe in modder, was Land Rover se sterk bemarkingsveldtog tydens die 1980’s.

Al is die laaste oorspronklike Defenders in 2016 gebou, het Land Rover duidelik nog ’n pakkamer vol onderdele iewers in die fabriek weggebêre. Die jongste beperkte weergawe hierdie legendariese voertuigreeks wat gaan herleef, is die Camel Trophy V8.

Land Rover gaan slegs 25 van hierdie Defenders bou, almal toegerus om so naby moontlik aan daardie oorspronklike Camel Trophy-voertuie te wees.

Die onderstel is Land Rover se beproefde staalraam, met vaste asse en konkelvering by al vier wiele. Buiten die heldergeel verf, is daar ook 16 duim-staalwiele, ’n wenas en metaalbuisraamdakrak, met vier LED-spreiligte wat enige roete in die donkerste nag sal verhelder.

Waar die 2021 Camel Trophy Defender verskil van die oorspronklike voertuie is die luukser binneruim, reuse-enjin en gebrek aan ’n volgrootte bosbreker. Die noodwiel is ook op die laairuimte se swaaideur gemonteer pleks van op die enjinkap.

Binne sit jy op Recaro-sitplekke met leerbekleedsel, maar jy gaan steeds reg teenaan die deur en venster met jou regterskouer en sy wees. Die Britse avontuurhorlosiemaker, Elliot Brown, lewer ook ’n eie voertuighorlosie vir die Camel Trophy V8 Defender, met ’n treffende kontoerlynagtergrond, wit aanwysers en geel tydstippels.

Land Rover se herleefde Camel Trophy Defender word aangedryf deur ’n tamaai petrolaangedrewe V8-enjin van 5 liter. Hierdie enjin lewer 298 kW en 515Nm ’n outomatiese agtgangratkas. As jy wil gaan duine ry in die Kalahari of Namibië, is hierdie sonder twyfel die aangewese Defender.

Al bied die Camel Trophy V8 Defender ongelooflike verrigting en ’n ontwerp wat heimwee onder Land Rover-geesdriftiges sal kweek, is die prys skrikwekkend.

Die duurste Land Rover wat tans in Suid-Afrika aangebied word, is ’n luukse Range Rover Vogue, wat jou R2,5 miljoen uit die sak sal jaag. As jy een van Land Rover se Camel Trophy V8 Defenders op jou werf wil parkeer, is dit ’n transaksie van R4 miljoen.