Ná meer as ’n kwarteeu het Jeep weer ’n bakkie in sy motorhuis. Die Amerikaanse 4x4-kenner Jeep het in Los Angeles sy nuwe dubbelkajuitbakkie onthul en sodoende die Gladiator-naam laat herleef.

In die 1960’s en 1970’s was Jeep se oorspronklike Gladiator-bakkies bekend onder boere om hul onbreekbare bougehalte en sterk veldryvermoë. Met Jeep onder toenemende druk van Jeep-geesdriftiges om ’n bakkie by sy reeks sportnutsvoertuie te voeg, het ingenieurs besluit om die Wrangler-voertuigplatform te gebruik vir ’n dubbelkajuitontwikkeling.

Die nuwe Gladiator is dan in werklikheid ’n Wrangler Unlimited-dubbelkajuit en dit beteken ongeëwenaarde veldryvermoë. Met ewenaarslotte op die voor- en die agteras, vering wat vir reuse-wielbeweeglikheid oor rotsoppervlakke sorg en die bekende 4:1-verhouding van die Rubicon-laestrekratkas kan Jeep roem dat hy nou die beste veldryer van alle dubbelkajuite het.

In die mark vir geharde dubbelkajuitveldvoertuie was dit altyd ’n tweestryd tussen Land Rover se Defender 130 en Toyota se Land Cruiser 79 V8. Met die Defender se uittrede is slegs die Land Cruiser oor. In sekere opsigte het ’n Gladiator-bakkie beter uiterste veldryvermoë.

Waar die Jeep-bakkie gaan sukkel om boere te oortuig, is ten opsigte van dravermoë. Die meeste dubbelkajuite op die plaaslike mark kan 1 ton in hul bak dra, maar die Jeep Gladiator se dravermoë op die agteras is slegs 725 kg. Daarteenoor is die sleepvermoë sterk, teen 3,5 ton, maar diegene wat die Gladiator as ’n ernstige veldryvragwerker wil gebruik, sal dalk steeds na die Land Cruiser 79 V8 moet kyk.

As ’n leefstyldubbelkajuit het die Gladiator trekkrag. Die kajuit is ’n baie beter langafstandtoeromgewing as ’n Land Cruiser, met gemakliker sitplekke, ’n 8,3 duim-raakskerm vir inligting en vermaak, en ’n oorvloed USB-punte vir voor- en agterpassasiers. Soos die Wrangler Unlimited kan die Gladiator-kajuit se dakpanele ook verwyder word. Dit kan sodoende ’n oopkapvoertuig word vir somervakansiestranddae en wildkykgeleenthede.

Die Gladiator word aangedryf deur Jeep se bekende V6-kragbronne, ’n 3,6 liter-petrol en ’n 3 liter-turbodiesel. Vergeleke met huidige mededingers troon die Gladiator se kragsyfers bo ander dubbelkajuitbakkies uit, met die petrolenjin wat 212 kW en 353 N.m lewer, terwyl die diesel 194 kW en 600 N.m lewer. Twee ratkaste is beskikbaar, ’n sesganghandratkas en ’n outomatiese agtgangratkas.

Met die samewerking van kragtige enjins en ’n oormaat ratte behoort die Gladiator-bakkies baie wakker verrigting en redelike brandstofverbruik te bied. As ’n leefstylbakkie wat moeiteloos op die snelweg kan ry en ook strawwe veldrywerk kan bemeester, het Jeep raakgevat met hierdie Gladiator-ombouing van sy gewilde en gerekende Wrangler-voertuigreeks.

Die vooruitsig vir plaaslike verspreiding is nog nie bepaal nie. Jeep tel Afrika onder die wêreldmarkte waarvoor die Gladiator bestem is in 2020, maar daar is nog geen vaste belofte van ’n Suid-Afrikaanse verkoopplan nie. 

Dit sal baie jammer wees as Jeep die oordeelsfout maak om die Gladiator nie plaaslik bekend te stel nie, omdat die vraag na dubbelkajuite besonder sterk is in Suid-Afrika en Jeep se bakkie ’n goeie mengsel van sterk enjins en besonderse veldryvermoë is.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.