Suid-Afrikaners vereenselwig groot en langafstandvragmotors met handelsmerke soos MAN, Mercedes- Benz, Scania, Vol-vo en Freightliner. Maar wat van DAF? Dié Nederlandse vervaardiger, verwant aan Peterbilt in Amerika, is minder bekend – ondanks sy reusemarkaandeel in Europa en Brittanje. DAF en Peterbilt behoort albei aan die Amerikaanse maatskappy Paccar.

Een van die redes vir sy mindere bekendheid is dat DAF lank laas nuwe produkte in Suid-Afrika bekend gestel het.

Dít het hy uiteindelik verlede maand gedoen toe hy sy nuwe XF- en CF-reeks hier losgelaat het. (Dit is nie al wat nuut is by Babcock, DAF se verspreider in Suider-Afrika, nie. Mnr. Marius Barnard het onlangs die leisels by DAF Suid-Afrika oorgeneem.)

Die XF en CF het al in 2017 hul verskyning in die buiteland gemaak, en is in 2018 aangewys as die internasionale vragmotor(s) van die jaar, ’n eerbewys wat die XF-105 in 2007 ingepalm het. Die XF en CF is in wese dieselfde. Eersgenoemde is net met kragtiger enjins toegerus en beskik oor ’n hoër kajuit met twee slaapbanke, asook ander bykomende toerusting.

MINDER DORS

Wanneer ’n vragmotor stilstaan of ’n paar sopies te veel diesel verbruik, daal ’n vlooteienaar se wins. Met ’n arsenaal tegniese verbeterings en hulpmiddels in die nuwe vragmotors het brandstofverbruik met gemiddeld 10% verminder, sê mnr. Mark Gavin, verkoopsdirekteur van Babcock.

“Dit beteken aansienlike besparings vir langafstandoperateurs, waar tot 60% van algehele uitgawes aan brandstofverbruik toegewys word,” sê hy.

Buiten ’n vars buite-ontwerp met uitstekende lugdinamika, bied die vragmotors se 13 liter-enjin nou meer wringkrag teen laer omwentelinge, met beter brandstofdoeltreffendheid en minder geraas. Lae enjintoere verlaag ook die CO2-vlak, terwyl die Eco Performance Mode volgens DAF ’n balans tussen bruikbaarheid en puik brandstofdoeltreffendheid verseker. Met ’n Euro 3-enjinspesifikasie kan die enjin op 500 DPM-diesel loop.

Gavin voeg by dat plaaslike vlooteienaars ook laer onderhoudskoste van die nuwe CF- en XF-vragmotors kan verwag danksy omgewingspesifieke tegnologiese aanpassings by DAF se aanleg in Eindhoven, Nederland, om te verseker die vragmotors is geskik vir die klimaat en padtoestande in Afrika. Dit sluit aanpassings aan die luginlaat en -filtrering, verkoelingstelsel, vering en ratkas in, asook ’n nuwe hiperdoeltreffende agteras met lae wrywing en ’n reeks vinniger ratverhoudings, wat selfs laer enjinomwentelings moontlik maak.

Die XF en CX se jongste outomatiese TraXon-ratkas verminder wrywingsverliese, bevorder vinniger opskakelings en het EcoRoll, wat die ratkas soms in neutraal sit. Die ratkas bied ook spesifieke sagteware-instellings vir langafstandvervoer, vervoer van vloeibare vragte (soos melk), swaardienswerk en werk op ruwe oppervlakke.

Die nuwe XF en CF bied dus die voordeel van ’n matiger dieseldors, maar DAF het beslis nie die ander fasette, soos die veiligheid van die bestuurder en padgebruikers naby hom, afgeskeep nie. Bestuurderhulpmiddels wat aan eienaars van hedendaagse luukse motors bekend is, help om die wiele aan die rol te hou.

VEILIGHEID

Daar is aanpasbare snelheidsbeheer om die vragmotor se spoed outomaties aan te pas en ’n veilige volgafstand vanaf die voertuig voor te hou, en ’n gevorderde noodremstelsel (AEBS) om die voertuig in ’n noodgeval tot stilstand te bring. ’n Botsingwaarskuwingstelsel gee oudiovisuele waarskuwings wat help om botsings te voorkom, en ’n vroeë waarskuwing help keer dat ’n bestuurder uit sy baan dwaal weens lomerigheid of afleibaarheid.

Verder is daar frommelsones voor en agter wat impakenergie help absorbeer, en die hele kajuit kan agtertoe skuif om die insittende(s) veilig te hou wanneer die vragmotor iets tref. Stabiliteitsbeheer verminder die risiko van die knipmes-effek en die waarskynlikheid dat die vragmotor kan omslaan.

Nóg ’n funksie wat kostebesparing in die hand werk, is Babcock se moniteringstelsel Executrax. Dit is soortgelyk aan Mercedes-Benz se Fleetboard, en help vlooteienaars om die vragmotorbestuurders se rytegnieke dop te hou en met instruksies of opleiding aan te pas. Opleiding met die gebruik van Executrax is gratis.

Gavin sê Babcock verskaf nuwe CF- en XF-vragmotors in ’n verskeidenheid modelle, met ’n eenjaar-voertuigwaarborg en ’n driejaarwaarborg op die enjin en ratkas. Eienaars kan ou DAF-modelle op nuwes inruil, en Babcock sal die ouer weergawes steeds rugsteun. Babcock beoog om volgende jaar ’n werkende aanleg in Suid-Afrika te hê wat DAF-produkte bou.