Nissan het in April ’n belegging van R3 miljard in  sy Rosslyn-aanleg buite Pretoria aangekondig. Met dié kapitaalinspuiting word beoog om die Navara teen 2020 plaaslik te begin bou.

Die huidige Navara-reeks bied slegs dubbelkajuitbakkies in Suid-Afrika, terwyl ander wêreldmarkte ook ’n een-en-’n-halfkajuitopsie het. Tog is daar tekens dat Nissan se Navara voor 2020 met ’n reeks veranderings kan spog. 

’n Verbeterde weergawe van die Navara is onlangs in Europa bekend gestel, met geringe ontwerpveranderings, maar ’n paar slim nuwe tegniese eienskappe. 

Van buite beskou het die nuwer Navara swart omhulsels vir die LED-kopligte en ’n reeks byderwetser wielontwerpe. Binne is Nissan se jongste inligtingstelsel met ’n agt-duimraakskerm en volledige slimfoonsamewerking. 

Eienaars kan hul slimfoon gebruik om die nuwer Navara van ’n afstand af te sluit, oop te maak, brandstofvlakke te lees of ’n bestemming na die bakkie se satellietroete-begeleidingstelstel te stuur. 

Meganiese veranderings begin by die intreevlak-2.3-literturbodieselenjin, wat tans nie plaaslik beskikbaar is nie. Nissan se ingenieurs het ’n tweede turboaanjaer bygevoeg om 120kW krag en 425Nm wringkrag te wek. Daar is ook hersiene, langer ratverhoudings vir die sesganghandrat. 

Nissan roem hom op die Navara se kronkelveeragteras, maar vir sekere eienaars sak die bakkie se laaibak te veel onder ’n vol vrag. Om dit teen te werk, het die jongste Navara ’n tweevlakkronkelveer, wat die laaibak 25 mm lig en 46 kg meer vrag laat dra. 

Gevorderde remme is nóg ’n nuwigheid. Nissan het die trommelremme op Navara se agteras vervang met skywe, wat ’n merkbare verbetering op rempedaalgevoel behoort te hê.

Die verbeterde Navara word binnekort in Europa en Australië bemark. Plaaslik is nog geen datum vasgestel vir die nuwer Navara se aankoms nie, maar met Nissan wat groot geld in hul Suid-Afrikaanse vervaardiging belê, lyk die kanse goed dat die eerste Navaras uit Rosslyn se aanleg al die nuwighede sal bied.

Vir plaaslike bakkie-aanhangers wat nie kans sien om vir Nissan se nuwer Navara te wag nie, is ’n Stealth-weergawe nou beskikbaar, met ’n reeks veldrybybehore en swart/oranje-kleurskema. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.