Nissan NP300 2.5 TDI 4x4-dubbelkajuit

Niemand sal jou verkwalik as jy dink jy hou ’n 1997-uitgawe van Landbouweekblad in jou hand nie. Want wat soek die Nissan Hardbody NP300 dan onder nuwe rygoed?

Die Hardbody is Nissan se Citi Golf. Plaasvervangers kom en gaan, maar steeds bou die Suid-Afrikaanse Nissan-fabriek dié esel teen ’n flinke pas. Dis byna soos die geval was met die Nissan 1400, glo tot groot genoegdoening van sentimentele Nissan-ingenieurs uit Japan. Vervaardigers hou sulke fossiele aan die lewe om waarde vir die verbruiker te gee, terwyl hulle lekker pap skep.

Die vernaamste ontwikkeling in die Hardbody-reeks is dat die turbodiesel-4x4, wat vroeër slegs as ’n enkelkajuit beskikbaar was, nou as ’n dubbelkajuit beskikbaar is. Maar hoeveel waarde verskaf hierdie nuwe “ou” NP300? Onder die kap sit ’n 2,5 liter-turbodiesel (98 kW, 305 N.m) wat nie vandag se kind is nie.

Dis gekoppel aan ’n vyfgang-handratkas met ratverhoudings wat korter is as Faf de Klerk. Jy kan in tweede rat wegtrek, en teen 70 km/h soek jy na ’n sesde rat. Op die oop pad voel 120 km/h dus na ’n klomp moeite, met heelwat enjin- en windgeraas.

Die NP300 kry ook nie veel punte vir gemak nie. Omdat hy soveel om draaie wieg, hoop jy dalk hy’s sag geveer en sal daarom nie uitermate oor die hobbels skud nie. Jammer vir jou. Die kajuit is netjies en duursaam, maar daar’s weinig plek om ’n selfoon te bêre. Die sitplekke se rugleunings is kort en die kopsteunkussing te laag. In sy guns tel die moderne inligting-en-vermaakskerm met raakfunksie en trukamera, en twee lugsakke.

Is dié Hardbody se prys van R433 900 laag genoeg om sy tekortkomings oor te sien? Die bekostigbaarste Navara-4x4 kos immers R567 900 en die goedkoopste Hilux-4x4 (dubbelkajuit) net onder R500 000. Dis ’n noemenswaardige verskil. Maar jy kan ’n Isuzu vir R442 100 kry en ’n Ranger vir R445 500 – albei turbodiesel-4x4’s.

Die NP300 het homself al bewys en sy loopkoste is laag, maar dis moeilik om hom bo die ander aan te beveel. My keuse sal op die Isuzu val.

Prys: R433 900.

Ford EcoSport 1.0 EcoBoost Titanium 6AT

Ford het motoriste se dors na klein melkbaardveldryers vroeg raakgesien en meer as 45 000 EcoSports in Suid-Afrika verkoop. Die splinternuwe model is onlangs bekend gestel, en ons het die ghrêndste een in die reeks bestuur: die 1.0-turbo-petrol Titanium met outoratkas.

Die driesilinder-enjin (92 kW, 170 N.m) wen heelwat wêreldpryse, maar gekoppel aan Ford se outomatiese sesgangratkas is hy betreklik dors. Ford dui verbruik van net meer as 8 liter/100 km aan, maar dit was moeilik om die ritrekenaar op ’n syfer laer as 10 liter/100 km te kry. Die petrolnaald het die indruk geskep dat daar ’n sinker aan hom hang.

Die EcoSport-reeks is in die algemeen omvattend toegerus. Die Titanium het ’n ekstra lugsak vir die bestuurder se knieë. Daar is altesaam sewe lugsakke. Ander veiligheidskenmerke is elektroniese stabiliteitsbeheer (met tegnologie wat dit moeilik maak om die kar om te gooi), ’n elektroniese banddrukmonitor, wegtrekhulp vir hellings, trusensors, asook kopligte en ruitveërs wat vanself aktiveer.

Verder het die Fordtjie ’n 8 duim-raakskerm wat so maklik soos jou slimfoon werk. Dit gebruik Ford se stembeheerde SYNC 3-stelsel en bevat satellietnavigasie wat nie data gebruik nie. Die sitplekke het leerbekleedsel en die bagasiebak is taamlik groot omdat die noodwiel agter aan die bagasiedeur vasklou.

Ford sê die kattebak is 334 liter groot en die vloer is versterk om ’n vrag van 300 kg te dra. Daar’s ongelukkig min beenruimte vir die agterste passasiers. Die EcoSport se waarborg is 4 jaar/120 000 km, die diensplan 4 jaar/60 000 km, en hy moet elke 15 000 km versien word.

Prys: R346 900.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.