Tog is daar ’n groot leemte in Nissan se reeks, een waarmee Toyota reusewins maak: ’n bekostigbare veldwa met sewe sitplekke. Sedert die Pathfinder jare gelede aan die plaaslike mark onttrek is, het Nissan dit nooit vervang met ’n soortgelyke voertuig wat Toyota se Fortuner kon aandurf nie.

Vir Nissan-aanhangers is dit hartseer, veral omdat die jongste D23-onderstel soveel belofte het as ’n veldwa. In ander wêreldmarkte is ’n sewe-sitplekweergawe van die Navara beskikbaar, onder die X-Terra-naam.

Hierdie voertuig is onlangs opgeknap en die goeie nuus is dat Nissan dit teen einde volgende jaar plaaslik gaan aanbied. Die enigste ooreenkomste met die Navara is die X-Terra se enjinkap en voorste deure, terwyl alle ander bakwerk en onderdele eie is aan die stasiewa.

Met ’n verkorte Navara-leerraamonderstel en sagter kronkelveer-agteras, behoort Nissan se X-Terra bietjie gemakliker grondpad te ry en flinker te draai. Dit is ook nie ’n voertuig wat hoegenaamd skrik vir strawwe veldry nie, met ’n laestrekratkas en elektronies sluitbare agteras vir steiltes uitklim of duine verower.

Enjin-keuses kan tot ’n haakplek aanleiding gee. Nissan se huidige X-Terra-reeks word hoofsaaklik met ’n 2,5 liter-viersilinderpetrol-enjin gebou, wat 124 kW opwek. Diesel oorheers die mark vir sewe-sitplekveldwaens in Suid-Afrika, en dit sal sinloos wees vir Nissan om te probeer meeding met Toyota se 150 kW Fortuner 2.8 as hy nie ’n turbodieselkragbron het nie.

Die sinvolste oplossing is om Navara se 2,3 liter-turbodieselenjins ook vir die X-Terra te gebruik. Met die ooreenkomste in die onderstelle en ratkaste behoort dit glad nie ’n kwessie te wees nie.

Nissan se verbeterde 2,3 liter-turbodieselenjin lewer 140 kW en 450 Nm, wat heel skaflik is vir ’n sewe-sitplekveldwa. Kopers sal waarskynlik tussen die Navara se sesganghandratkas en die outomatiese sewegangratkas kan kies.

Nissan beloof om uitstekende langafstandbestuursgemak te bied met hierdie nuwe veldwa. Daar is ’n 11 duim-tikskerm op die inligting- en vermaakstelsel en die Japannese maatskappy se uiters gemaklike nuwe sitplekke.

Die stoffering en struktuur van X-Terra se sitplekke is deur die Keio-universiteit ontwerp om drukpunte teen te werk as jy ure op die pad gaan wees.

Nissan se Fortuner-teenstander sal plaaslik Terra heet om verwarring met die X-Trail te voorkom.