Nissan se D23-reeks Navara het nooit dieselfde plaaslike welslae ervaar as sy voorganger, die D40, nie.

Nieteenstaande die kronkelveer-agteras, wat uitstekende ritgehalte op die slegste Karoo-grondpaaie lewer, is die huidige Navara-dubbelkajuit nie ’n mededinger vir Hilux of Ranger as dit by verkoopsyfers kom nie.

As deel van Nissan se wêreldwye sakevernuwing is ’n opgekikkerde Navara nou bekend gestel. Die herontwerpte voorkoms is treffend, met ’n reuse-sierrooster en kopligte wat elk vier onafhanklike ligbuise het.

Met Ford wat groot aftrek geniet ten opsigte van sy Ranger Thunder, en Toyota se windmakerige Hilux Legend RS erken Nissan se bemarkingspan die vraag na luukse toerbakkies. Nissan se antwoord is die nuwe Navara PRO-4X.

Met breër wielboë, ’n rolstaaf en kleiner 17 duim-wiele met Yokohama Geolander-bande is PRO-4X die aangewese Navara vir Nissan-aanhangers wat ernstige veldrywerk wil aandurf.

Navara PRO-4X se kleiner wielgrootte, met groter bande, sal byval vind by kranige veldryers. Dit beteken daar is baie meer lugvolume om mee te speel as jy ’n liederlike duineveld moet kruis en baie lug uit die bande wil laat om die spooroppervlak te verleng.

Kronkelvere is sedert die huidige Navara se bekendstelling in 2014 die groot tegniese roempunt van Nissan se dubbelkajuitbakkie. Tog waardeer min plaaslike kopers die voordeel wat hierdie kronkelvere kan bied, en kla slegs oor die bakkie se laaibak wat sak wanneer dit vol is.

Nissan het kennis geneem hiervan en die nuwe Navara kan nou 1,2 ton laai sonder moeite, te danke aan ’n versterkte agteras. Die bakkie se kragstuur is ook hersien om vinniger laesnelheidinsette te kan uitvoer. Ratser hantering in dorpverkeer, of wanneer jy flink met die stuur moet werk tydens ’n tegniese stuk veldry sal ’n opvallende verbetering oor die huidige Navara te bied.

Buiten die nuwe voorkoms en klein meganiese verstellings is Navara se grootste opknappings aan die binneruim aangebring. X-Trail-eienaars sal onmiddellik die kleiner driespeekstuurwiel herken en van slimfone wat op die langpad pap raak, wil hierdie Navara niks weet nie.

Nissan besef hoe belangrik dit is vir alle insittendes van ’n dubbelkajuit-bakkie om ’n volgelaaide slimfoon te hê en die getal USB-laaipunte is van een tot vier vermeerder. Agtersitplekpassasiers kry ook ’n opslaan-armrus, wat dien as ’n pakplek vir koeldranke en ander persoonlike goedere.