Drie jaar nadat die laaste reeks van die oorpronklike Defender gebou is, het Land Rover die sluier oor sy opvolger gelig.

Die nuweling is ’n moderner voertuig, maar Land Rover se ontwerpers het probeer om van die oorspronklike Defender se ontwerpkenmerke te behou. Gevolglik het die nuwe model ronde LED-kopligte, ’n noodwiel gemonteer op die laaibakdeur en oorheersend reghoekige verhoudings.

Geharde veldryers sal ook bly wees om te weet dat Land Rover eienaars die keuse gaan bied om hul Defender met staalwiele te bestel, wat baie duursamer in strawwe toestande is.

Die kortas 90- en die langas 110-bakverhouding sal beskikbaar wees en daar is ’n reeks vindingryke sitplekopsies: vyf-, ses- of 5+2. Die nuwe Defender stel ook nie teleur vir diegene wat hul bagasie binne of buite wil laai nie.

Met die agterste sitplekke platgeslaan, is die bagasieruim van ’n 110-model altesaam 2 380 liter, en as jy die tweede ry sitplekke wel gebruik, is daar steeds 1 078 liter pakplek in die agterruim. Die Defender se dak kan 168 kg dra vir daardie langafstandvakansies in Afrika. Vir diegene wat ’n tent wil opslaan, kan die dak 300 kg dra as die nuwe Defender stilstaan.

Getroue Defendervolgelinge sal die verandering van ’n staalleerraamonderstel na ’n eenstuk-aluminiumontwerp bevraagteken, maar Land Rover se ingenieurs het gesorg dat die nuwe voertuig hoogs bekwaam is vir veldrywerk.

Die nuwe Defender se grondvrye hoogte is 291 mm. Met ’n waterdieptevermoë van 900 mm hoef hierdie nuweling vir geen veldwa terug te staan nie. ’n Laestrek-ratkas verseker uitstekende klouterverrigting in moeilike veldtoestande en Land Rover sal nou ook ’n sluitbare agteras bied – iets wat altyd op die oorspronklike Defender ontbreek het.

Alle nuwe Defendervoertuie word aangedryf deur ’n outomatiese ratkas, wat ’n groot verandering is van die vorige geslag, wat slegs met handratte uitgekom het.

Die voertuig se kragbronne is indrukwekkend. Land Rover sal die Defender 110 vroeg volgende jaar mark toe bring met ’n 3 liter-turbopetrolenjin met ses silinders in gelid, wat 294 kW en 550 N.m lewer. As jy reikafstand soek, is daar ’n 2 liter-turbodiesel wat 177 kW en 430 N.m lewer. Die sleepvermoë is 3,5 ton en volgens Land Rover kan jy maklik 900 kg in die nuwe Defender laai.

Land Rover het 170 onafhanklike bybehore ontwikkel vir die nuwe Defender, wat onder meer daktente en afstandbeheerde wenaste insluit. Vir Land Rover-aanhangers wat graag hul Defender met allerhande toerusting vir ontdekkingstogte wil toerus, sal daar verseker ’n breë keuse wees by jou plaaslike handelaar.

Die nuwe 110-model Defender sal jou R910 400 uit die sak jaag, met die korter 90-model wat R830 300 sal kos. Land Rover se eerste besending nuwe Defenders word vroeg volgende jaar in Suid-Afrika verwag.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.