Toyota het in Junie vanjaar ’n reeks verbeterings vir die huidige Hilux aangekondig, onder meer ’n sterker 2,8 liter-turbodieselenjin, om Ford se 157 kW Ranger die hoof te bied.

Ná maande se wag is die jongste Hilux nou op plaaslike bodem en dit is ’n voertuig wat Toyota se sterk markposisie verder sal verskans.

Buiten die herontwerpte vooraansig met ’n breër sierrooster is daar ook ’n beter JBL-klankstelsel, 8 duim-tikskerminligtingstelsel en outomatiese togbeheer in die duurste Hilux Legend-dubbelkajuit.

Maar die groot nuus is sonder twyfel ’n belofte van beter verrigting. Toyota se 2,8 liter-Hilux het nooit gesukkel met veldry nie, maar op die oop pad het Ford se Ranger die voordeel gehad danksy ’n 2 liter-dubbelturbodieselenjin met 27 kW meer krag en 80 Nm meer wringkrag. Vindingryke ingenieurswese deur Toyota se beste enjinkenners het 20 kW en 80 Nm meer uit die 2,8 liter-viersilinderdieselenjin getoor, wat nou 150 kW en 500 Nm lewer.

Vir die meeste boere en plattelandse Toyota-aanhangers sal die sterker sleep- en hoësnelheidtoervermoë van hierdie kragtiger enjin ’n reuse-aanwins wees. Maar van die nuwe Hilux nuttigste verbeterings is dinge wat nie die opskrifte haal of deel van braaigesprekke is nie.

’n Onteenseglike waarheid in rotsagtige 4x4-roetes, waar voertuigsake ’n groot moontlikheid kan wees, is om so vinnig as nodig, maar so stadig as moontlik te ry. Dit is baie afhanklik van hoe laag jou bakkie se enjinluierspoed is en Toyota het dit reggekry om die nuwe Hilux se dieselenjin teen slegs 650 r/min. te kan laat draai.

Met die luierspoed wat nou 200 r/min. laer is as voorheen, sal jy stadiger, met goeie ondersteunende wringkrag, teen gevaarlike rotssteiltes kan uitklim, en ook teen die ander kant afry met sterker enjinremming. Geharde veldryers weet dat meer enjinkrag nutteloos is sonder beheer. Toyota het beter veringonderdele by die Hilux se onderstelskakels ingepak, wat stramheid verminder en suiwerder veringaksie tot gevolg het oor klein ongelykhede. Die gevolg is beter ritgemak, veral sonder ’n laaivrag.

Die nuwe Hilux-reeks se 2,8 liter-modelle begin by ’n outomatiese enkelkajuit-4x2 teen R532 300, met die goedkoopste dubbelkajuit ’n handratmodel vir R631 900.

Toyota-aanhangers wat ’n 4x4-dubbelkajuit met die sterker enjin soek, sal R706 400 moet uithaal. As jy ’n Legend met al die bybehore wil ry, sal dit jou R765 500 uit die sak jaag vir ’n outomatiese en R733 500 vir ’n handratmodel.