Isuzu het bevestig hul nuwe D-Max-bakkiereeks sal eers in 2022 plaaslik beskikbaar wees. Vir getroue aanhangers van dié Japannese bakkievervaardiger kan dit dalk te laat word, veral met ’n nuwe Ford Ranger was ook teen daardie tyd in Suid-Afrika beskikbaar sal wees.

Al is die derdegeslag D-Max reeds in ander regterhandstuurmarkte soos Australië te koop, was die verwagting dat dit vroeg volgende jaar by Suid-Afrikaanse handelaars versprei sou word. Kwessies om die bakkie se tegniese verstelling vir plaaslike toestande het egter hierdie planne omvergewerp weens vertragings as gevolg van die wêreldwye Covid-19-krisis.

Isuzu se rede vir die uitstelling is dat hy deeglike plaaslike toetskilometers wou ry, maar Covid-19-regulasies het dit gedwarsboom. Sy ingenieurspanne kon nie tydens die grendeltydperk in April die nodige afstande ry nie. Om te verseker sy nuwe D-Max sou dieselfde grondpadritgehalte en binneruimstofbeskerming hê wat Isuzu-bakkies se aanhangers verwag, moet die voertuie deeglik in die plaaslike omgewing getoets word.

As jy iemand is wat met ’n KB250 grootgeword het en teleurgesteld is dat Isuzu se nuwe kroonbakkie eers in 2022 gaan aankom, is daar ’n moontlikheid dat jou geduld beloon sal word. Die maatskappy se ingenieurspan in Port Elizabeth is nou druk besig om skokbrekers en ewenaarslotte vir plaaslike toestande te toets.

Isuzu glo Suid-Afrikaanse grondpaaie is taaier as enige ander wêreldmark waar die D-Max verkoop word. Met derduisende kilometers se toetswerk op hierdie plaaslike oppervlaktes, meestal in Oos-Kaapse Karoo, hoop Isuzu om ’n skokbrekerverstelling te kry wat voorsien in Suid-Afrika se eiesoortige behoeftes ten opsigte van ritgehalte en laaivermoë.

Uit ’n bemarkingsoogpunt is die leweringsdatum van 2022 vir die nuwe D-Max ’n baie groot struikelblok vir Isuzu wat mededingers betref.

Mazda se nuwe BT-50-dubbelkajuit, wat op dieselfde onderstel as die D-Max gebou word, sal in 2021 plaaslik verkoop word. Vir Isuzu bestaan die gevaar dat getroue Isuzu-eienaars deur ’n nuwe BT-50, wat in beginsel ’n derdegeslag D-Max met Mazda-bakwerk is, oortuig kan word om handelsname te ruil eerder as om nog ’n jaar te wag.

Dan is daar ook die kwessie van Ford se volgende Ranger. Hierdie bakkie sal die plaaslike mark op dieselfde tyd as Isuzu se derdegeslag D-Max betree, wat verseker ’n prysoorlog kan ontketen.