Volkswagen se plaaslike aanbod van dubbelkajuitbakkies kan in die toekoms groei tot drie onafhanklike modelreekse namate die maatskappy se jongste ontwerpneigings uit Suid-Amerika verder momentum opbou. Die Duitse vervaardiger bemark tans Amarok- en Transporter-dubbelkajuitbakkies in Suid-Afrika, maar ’n kleiner bakkie is dalk op pad.

Op die onlangse São Paulo-motorskou het Volkswagen ’n Tarok-vertoonvoertuig gewys. Al is die ontwerp dalk ’n rapsie byderwets vir tradisionele bakkie-eienaars, glo Volkswagen dat daar beslis ’n behoefte bestaan aan ’n voertuig wat kleiner as die Amarok is, maar soortgelyke vermoë het. Volgens Volkswagen se ingenieurs sal die Torak binnekort te koop wees in die Brasilië.

Die bakkie wat kopers gaan kry, is glo nie veel verwater van die ontwerpstudie nie. Wat die Tarok van ander bakkies onderskei, is dat dit nie ’n gewone staalleerraamonderstel gebruik nie. Die bakkie se struktuur is eerder Volkswagen se beproefde MQB-platform, wat hoofsaaklik in passasiers- en sportnutsvoertuie soos die Golf en Tiguan aangewend word.

Die hoofkenmerk van die MQB-platform is dat die enjin dwars gemonteer is, wat baie beter verpakking van die kajuit tot gevolg het, met meer ruimte vir passasiers, sonder dat die bakkie se afmetings hoef te groei. Die MQB-onderstel is ook ’n geheelstruktuur, pleks van kajuit- en bakwerk wat op die leerraam gemonteer moet word, en die kernvoordeel hiervan is minder vibrasie, flinker hantering en beter stabiliteit teen hoë snelhede.

As die Tarok in beginsel ’n dubbelkajuit-Tiguan is, hoe gaan dit ernstige bakkie-laaivragwerk verrig? Hier het Volkswagen ’n reeks slim antwoorde. ’n Skuifpaneel aan die agterkant van die kajuit vergroot die laairuimte tot ’n allemintige 1,8 m. Jy kantel eenvoudig die agterste sitplekke dat hulle plat vou, maak die kajuit se laaipaneel oop, en dan kan daar lang voorwerpe sonder moeite vervoer word.

Mits dit natuurlik nie reën nie. Volkswagen het nog nie uitgebrei oor die Tarok se veringstelsel nie, maar soos die meeste ander MQB-voertuie behoort dit onafhanklike aste voor en agter te hê. Tog spog die “kleiner Amarok” met ’n dravermoë van 1 000 kg. Van die ander inligting wat eers met die Tarok se amptelike buiging bekend sal word, is die grondvrye hoogte, maar die veldvermoë behoort redelik skaflik te wees, veral vir die eienaars wat slegs grondpad en ’n bietjie duine wil aandurf.

Die Tarok word aangedryf deur Volkswagen se bekende 2 liter-turbodieselenjin en ’n 1,4 liter- turboaangejaagde petrolenjin, wat albei 110 kW opwerk en al vier wiele deur ’n outomatiese sesgangratkas aandryf. Dit maak nie saak of jy die Tarok sien as ’n dubbelkajuit-Tiguan of ’n kleiner Amarok nie, die feit is dat hierdie VW-bakkie oneindige belofte het.

Volkswagen se ankermark vir Tarok sal Brasilië wees, maar die bakkie is ontwerp as ’n wêreldmarkproduk en in Suid-Afrika sal dit ’n reuse-aantrekkingskrag vir die Duitse handelsmerk wees. Onderhandelings vir die bekendstelling van Tarok in regterhandstuur sal moeilik wees omdat Brasilië en die meeste ander bakkielande linkerhandstuur gebruik.

Die voordeel wat Volkswagen Suid-Afrika se bakkiebeplanners met betrekking tot die Tarok het, is dat Volkswagen Suid-Amerika se huidige baas David Powels is – ’n Oos-Kaapse boorling wat die plaaslike bakkiemark goed verstaan.