Al begeer ernstige veldryers ’n Land Cruiser, is daar een voertuig wat al dekades lank bewys dat grootte geen verband hou met verdienste nie. Suzuki se Jimny word as een van die beste veldvoertuie vir begrotingsbewuste, avontuurlustige Suid-Afrikaners beskou, en ná jare se afwagting is die eerste besonderhede van die vierde geslag Jimny uiteindelik bekend.

Aanhangers wag al lank vir Suzuki om nuwe bestanddele by sy Jimny-wenresep in te meng. Die bestaande voertuig word sedert 1998 bemark, wat dit vanjaar dié Jimny se twintigste bestaansjaar maak.

Oningeligte waarnemers lag miskien in hul mou as hulle ’n Jimny in verkeer gewaar, maar al is die bakvorm kleiner as die meeste stadskarretjies en die binneruim beknop, beskik Suzuki se veldryer oor verstommende vermoëns.

Die hoekige voorkoms onderskei Jimny van die meeste ander veldryvoertuie, buiten Toyota se Land Cruiser 70-reeks en die Mercedes Geländenwagen. Hierdie reuse is ook die Jimny se enigste werklike teenstanders.

Hoewel die nuwe Jimny Suzuki se kenmerkende vierhoekige ontwerp met ronde hoofligte behou, is daar tegnies talle verbeterings. Soos Land Rover se Defender was ‘n Jimny se binneruim nog nooit die plek waar jy ure aaneen wil deurbring nie. Daar is egter nou ‘n raakskerm vir inligting en vermaakfunksies, asook die stuurwiel en skakelaars van Suzuki se jongste Swift. Getrou aan die Jimny se erfenis is die instrumente se lettersoort steeds oranje. Die hoër dak bied meer kopruimte vir passasiers en pakplek vir hul bagasie.

Suzuki het nie verander aan die kernbeginsels wat die Jimny in staat gestel het om gesag af te dwing by die eienaars van veel groter en kragtiger veldvoertuie nie. Die onderstel is steeds ‘n staalleerraam met voor- en agtervering wat bestaan uit vaste aste. Daar is geen ander veldryer wat so klein en rats is met ‘n laestrekratkas nie. Omdat die Jimny soveel ligter is as voertuie met soortgelyke 4x4-toerusting, is dit maklik om ’n Jimny te herwin as dit wel vasval.  

Die realiteit van veldvoertuigeienaarskap is dat daar dikwels honderde kilometer op teer gery moet word voor jy jou avontuurbestemming bereik, en daardie hoofpadroetes was nog nooit ‘n Suzuki-sterkpunt nie. Die Jimny se enjinkrag is oorgenoeg om hindernisse in die laestrekratte te oorwin, maar op ‘n snelweg moes jy liefs tussen die vragmotors in die linkerbaan gaan sit, iets wat vreesaanjaend kon wees in so ‘n klein voertuig.

Een van die nuwe enjinopsies gee die Jimny uiteindelik vryepas om die middelbaan van die N1 ook te kan gebruik. Suzuki se beproefde 1,2 liter-enjin met drywing van 63 kW en wringkrag van 115 Nm word oorgeplant vanaf die huidige Swift, terwyl ‘n 1 liter- turboaangejaagte kragbron 82 kW en 170 Nm lewer. Laasgenoemde klink dalk veels te klein vir Suid-Afrikaanse toestande, maar danksy die turbo sal hierdie 1 liter-Jimny baie minder sukkel in dun Hoëveldse lug. Die 82 kW is ‘n 30%-kragverbetering teenoor die huidige 1,3 liter-Jimny. Die Jimny sal ook steeds ‘n vyfganghandrat- en vierspoed- outomatiese ratkas bied.

Suzuki se herontwerp van een van sy bekendste produkte takel al die swak punte van die vorige Jimny: ‘n ongemaklike binneruim en ’n gebrek aan verrigting. Die vierde geslag van hierdie beroemde veldryer behoort teen November plaaslik beskikbaar te wees teen ‘n prys wat ongekende waarde sal bied aan kopers wat die voertuig gereeld veld toe sal neem. As jy nie sit- of pakplek vir kinders benodig nie, is ‘n nuwe Jimny waarskynlik die slimste 4x4-belegging wat daar is.