Die weeldebakkie sukkel al van 2018 om vastrapplek in die bakkiemark te kry. Gerugte oor die X-klas se toekoms loop al sedert laat verlede jaar. Mercedes-Benz se woordvoerders het egter voet by stuk gehou dat hul bakkie nooit beskore was om ’n groot verkoper te wees nie, maar weens krimpende verkoopsyfers kom die X-klas se kort verhaal nou tot ’n einde.

In 2018 het Mercedes-Benz wêreldwyd 16 700 van sy X-klas-bakkies verkoop. Verlede jaar was dit slegs 15 800. Met Mercedes-Benz wat ’n groot winsknou in 2019 beleef het, is alle swak sake-eenhede onder die Duitse maatskappy se beheer tot verantwoording geroep vir 2020 en die X-klas se doppie is geklink.

Vir die breër motorbedryf is die besluit ’n duidelike teken dat een van Duitsland se mees gerekende maatskappy in die knyp is.

Dit spreek boekdele wanneer ’n model ná so ’n kort verkooptyd onttrek word. Mercedes-Benz is die wêreld se oudste motormaatskappy en het ’n roemryke geskiedenis met baie min produk- of bemarkingsfoute. 

Die X-klas se mislukking is ’n reuse-verleentheid vir Mercedes-Benz, maar die gevaartekens was beslis van die begin af daar. Dit was ’n oordeelsfout om ’n bakkievennootskap met Nissan aan te gaan. Mercedes-Benz kon nooit sy eie volledige tegniese oplossings bied nie en die X-klas was uiteindelik te swaar met die binneruim vol afwerkingsfoute.

Die X-klas se gewigprobleem was die gevolg van ’n eerbare doel: om te verseker dat ’n bakkie met die driepuntster soortgelyke klankdigtheid het as Mercedes-Benz se passasiersvoertuie. Die gewig van daardie klankdigtheidmateriaal het veroorsaak dat die X-klas middelmatige verrigting gehad het.

Al het die X-klas gevorderde binneruimkenmerke, was die verpakking haglik. Daar was geen diepteverstelling vir die stuurwiel nie en van die lugreëlingknoppies is deur die rathefboom versper. 

Ten spyte van dié ooglopende foute het niks die bakkie soveel gekniehalter soos sy prys nie.

Sonder noemenswaardige tegniese voordele of beter werkverrigting as sy mededingers het Mercedes-Benz steeds ’n reuse-premie gevra vir sy X-klas. Dit was Suid-Afrika se eerste bakkie wat meer as R1 miljoen gekos het. Selfs die viersilinderweergawes was van 20% tot 25% duurder as ’n soortgelyke Hilux of Ranger. Hierdie pryse het gelei daartoe dat die bakkie deur plaaslike bakkiekopers verwerp is.