Suid-Afrikaanse vindingrykheid en tegniese vaardighede met pantservoertuie is wêreldbekend. Vir baie boere is die idee van ’n persoonlike pantservoertuig egter steeds iets wat onhaalbaar klink.

SVI het nou ’n oplossing met sy Max 3. Hierdie koeëlbestande B6-voertuig is as enkelkajuit, dubbelkajuit en stasiewa beskikbaar.

Die staalbakwerk is plaaslik deur SVI ontwerp en word onder die strengste gehaltebeheer vervaardig. As jy veilig wil voel wanneer jy in die donker moontlike probleme by jou landerye, veekudde of pakhuis moet ondersoek, is hierdie beslis die aangewese voertuig.

SVI waarborg dat sy Max 3 se insittendes veilig sal wees, al word die voertuig met ’n AK-47 of R1 geskiet. Met sterk LED-ligte wat op die dakraamwerk gemonteer is, bied die Max 3 ook uitstekende beligting as jy wil seker maak daar is nie aanvallers binne die onmiddellike omgewing van jou bakkie nie.

Die voertuig se hoekige ontwerp is dalk nie aërodinamies nie, maar SVI se ingenieurs het noukeurig al die betrokke staaloppervlakke gevorm om koeëlvastheid te verseker.

Wat SVI se Max 3 baie aantreklik sal maak vir Suid Afrikaanse boere, is die voertuig se platform en meganiese onderdele. Daar is min dinge wat soveel vertroue op ? plaaswerf inboesem as ’n Land Cruiser 70. Juis daarom is die Max 3 op die onderstel van Toyota se kanniedoodveldryer gebou.

Om vir die Max 3 se swaarder bakwerk voorsiening te maak, het SVI die Land Cruiser se veringstelsel effe aangepas en bande met ’n hoër laaigradering gekies.

Aandrywing is deur middel van Toyota se beproefde 4,5 liter-V8-turbodiesel, wat 151 kW en 430 Nm lewer, met ’n vyfganghandratkas en laestrekratte wanneer jy steiltes wil uitry. Vanweë die gewig van die voertuig beveel SVI aan dat Max 3-eienaars nie vinniger as 140 km/h ry nie.

SVI bemark die Max 3 teen R1,6 miljoen. Onderdele vir instandhouding is maklik bekombaar van jou plaaslike Toyota-handelaar.

Vir enige boer wat bekommerd is oor sy veiligheid op die plaas en ’n maklik bestuurbare pantservoertuig soek, met die belofte van Toyota se meganiese duursaamheid daarby gevoeg, is hierdie SVI Max 3 ’n bakkie sonder weerga.