Soos hul nasionale rugbyspan is Franse motorvervaardigers heel onvoorspelbaar. En Peugeot het vir ’n reuse-verrassing gesorg deur sy hertoetrede tot die bakkiemark aan te kondig. Die Franse vervaardiger het ’n ryk bakkiegeskiedenis, met gesoute Suid-Afrikaanse bakkiekenners wat die 404-enkelkajuite met lof sal onthou.

Ten spyte van ’n ingewikkelde samesmeltingsooreenkoms met Fiat-Chrysler wat einde 2019 die nuus gehaal het, het Peugeot tog daarin geslaai om hulpbronne af te staan om ’n nuwe bakkiereeks te ontwikkel.

Landtrek is die nuwe reeks se naam en dit strek oor enkel- en dubbelkajuitweergawes.

Baie sal wonder waar Peugeot ná dekades hierdie bakkie-vindingrykheid geoes het, maar die feite dui eerder op uitstekende samewerking. Soos verskeie ander Europese motorvervaardigers het Peugeot reuse-nywerheidooreenkomste in China. Die Franse maatskappy se vennoot in China is Changan, en Peugeot se Landtrek is op ’n gemeenskaplike Kaicheng F70-onderstel gebou.

Met ’n treffende Franse ontwerp en Chinese onderstel is Landtrek ’n interessante kombinasie van Europese en Oosterse bakkiewaardes.

Al is daar ’n 2,4 liter-petrolenjin, wat 155 kW en 320 Nm lewer, sal Suid-Afrikaanse bakkie-aanhangers meer belang stel in die 1,9 liter-turbodiesel, met 110 kW en 350 Nm. Hierdie dieselenjin is gekoppel aan ’n Getrag-sesganghandrat. Daar ook is ’n laestrekratkas beskikbaar vir alle 4 x 4-Landtrek-weergawes.

Peugeot se nuwe bakkie sal in enkelkajuitvorm 1,2 ton kan dra en 3 ton se sleepvermoë hê. Veldryvermoë sal afhang van die Landtrek se dryfstelsel, met 4 x 2-weergawes wat 214 mm grondvrye hoogte het en 4 x 4-bakkies ’n heel skaflike 235 mm. Peugeot het nog nie bevestig of enige van die Landtrek-bakkies agterasewenaarslotte sal hê nie.

Die binneruimontwerp is ongetwyfeld hierdie Franse bakkie se grootste glanspunt. Peugeot het slim gespeel deur onderdele en ontwerpstukke uit sy passasiervoertuie oor te plant in die bakkie se dubbelkajuitbinneruim.

Die stuurwiel is klein en het slegs twee speke, met intuïtiewe satellietbeheerknoppies. Inligting, slimfoonskakeling en vermaak word beheer deur ’n 10 duim-skerm, wat bo-op die kajuit se middelpaneel gemonteer is.

Beslis die Landtrek-dubbelkajuit se netjiesste binneruimvindingrykheid is agtersitplekke wat in ’n 60:40-verhouding kan vorentoe kantel. Dit skep 25 liter meer laairuimte vir bagasie in die agterste ruimte van die kajuit. Die agterkant van daardie sitplek wat vorentoe kantel, is sterk genoeg om te dien as ’n 100 kg-gradering-laaioppervlak.

Landtrek sal beslis ’n goeie aanwins vir Peugeot se plaaslike sake wees as die bakkie einde 2021 hier beskikbaar gestel word, ’n besluit wat nog hangende is aan die Franse se kant.