Die Amerikaanse motorreus GM het in 2010 besluit om die Hummer-reeks te staak. Dit het die maatskappy se plaaslike vervaardiging ingrypend geraak, omdat ’n groot aantal van die Hummer se derdegeslag-4x4-veldvoertuie in GM se aanleg in Port Elizabeth gebou is.

Hummer het in 2010 doodgeloop as gevolg van GM se swak kapitaalbestuur ná die internasionale ekonomiese krisis van 2018. Veldvoertuie het egter die afgelope dekade ’n bloeitydperk beleef, en GM se Hummer H3 was ’n kleiner veldvoertuig wat op markte kon meeding waar die Amerikaanse bielies nie bruikbaar was nie.

Nou is daar sprake op die mark dat Hummer kan herleef. GM besef dat battery-aangedrewe bakkies en veldvoertuie die toekoms is, en wil graag sy naam vestig wat sy voertuie se veldryvermoë betref.

Die oorsponklike Hummer was eenvoudig ’n ombouing van ’n personeelvoertuig van die Amerikaanse weermag. Die tweedegeslag-Hummer se voorkoms en bestuurbaarheid is verfyn, maar dit was steeds ’n belaglik reusagtige voertuig wat te breed vir die meeste veldryroetes was.

Met die derdegeslag-Hummer, wat van 2007 tot 2009 in Suid-Afrika gebou en bemark is, het GM ’n voertuig gebied met die veldryvermoë van ’n Land Cruiser, maar wat nie groter as ’n Fortuner was nie. Bakkies was altyd in die agterkop met die ontwikkeling van die Hummer, omdat die oorspronklike weermag-Hummer ’n dubbelkajuit met ’n laaibak was.

Volgens Amerikaanse sakenuus vind onderhandelinge tans in die GM-raadsale plaas oor die herlewing van die Hummer-handelsmerk, met ’n reeks elektriese bakkies en veldvoertuie.

Die ironie agter so ’n besluit is duidelik. Oor die jare heen was die Hummers altyd voertuie met belaglike groot enjins en baie swak brandstofverbruik – die versinnebeelding van ’n Amerikaanse veldvoertuig. Om die Hummer-naam as ’n omgewingsvriendelike, battery-aangedrewe bakkie te laat herleef, gaan baie verbeelding verg.

Tog kan GM se plan begryp word. Hummer is ’n naam wat steeds met agting beskou word deur ernstige veldryers. As GM dit kan gebruik om die ratte van kopers se onderbewussyn te laat wissel na hul nuwe elektriese veldvoertuie, hoekom nie?

As GM daarin kan slaag om ’n reeks battery-aangedrewe bakkies en veldvoertuie onder die Hummer-handelsmerk te skep, sal dit een van die grootste omskakelings in die onlangse motorgeskiedenis wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.