As die Hilux die bakkie is wat Suid-Afrika help bou, is die Quantum die voertuig wat meer Suid-Afrikaners as enige ander vervoer. Die minibustaxibedryf is pal in die nuus om die verkeerde redes, maar die feit bly staan: Meer Suid-Afrikaners pendel daagliks in een van Toyota se Quantum-bussies as enige ander voertuig.

Dit is ook die vervoermiddel wat die meeste stedelike trekarbeiders oor langnaweke en vakansietyd terugneem na die platteland. Kortom: Die Quantum is Suid-Afrika se belangrikste passasiersvoertuig, en Toyota het pas ’n nuwe weergawe onthul.

Die sesde geslag van dié voertuig maak ’n reuse-sprong vorentoe met betrekking tot voorkoms, veiligheid en verrigting. Die nuwe HiAce is meer as 500 mm langer as die Quantum, wat in Durban vervaardig en plaaslik verkoop word. Die treffendste verandering ten opsigte van voorkoms is ’n nuwe vooraansig, met ’n enjinkap – die eerste HiAce wat nie ’n plat neus het nie.

Toyota se ingenieurs het opdrag gekry om sterker enjins en beter veiligheid in botsings te bewerkstellig met die HiAce se herontwerp. Daardie langer neus is nou die tuiste van Toyota se beproefde Hilux 2,8 liter-turbodieselenjin, wat 130 kW en 450 N.m lewer. Krag word gestuur na die agterwiele deur middel van ’n sesgangratkas – outomaties of handrat – met laasgenoemde wat ’n beperking van 420 N.m op die 2,8 liter-enjin plaas. Vir sekere markte sal Toyota ook ’n V6-petrolenjin van 3,5 liter aanbied.

Alle handratmodelle kry ’n hellinghoufunksie, iets wat aan bestuurders wat gereeld in heuwelagtige stedelike gebiede pendel, ’n heelwat makliker lewe agter die stuur sal bied. Dié tegnologie knyp die HiAce se remme vir ’n paar sekondes nadat die rempedaal gelos word, om te verseker dat die bussie nie terugrol terwyl ’n bestuurder die koppelaar en versneller met mekaar koördineer nie.

As ’n vervoeroplossing is die nuwe HiAce ’n groot bate. Die sleepvermoë is 400 kg groter, met ’n trekgradering van 1 900 kg.

Die binneruim kan verstel word vir van 12 tot 17 passasiers. As jy al die sitplekke uithaal, is die laairuimte ’n allemintige 50% groter. Toyota sal gewone en langasafstandweergawes bied. 

Benewens die langer neus, wat beter energieverplasing in ’n botsing reg van voor waarborg, spog HiAce nou ook met elektroniese stabiliteitsbeheer en snelheidsgevoelige kragstuur. Vir Suid-Afrikaners wat hoofsaaklik aangewese is op taxi’s vir vervoer, is die vooruitsig van hierdie veel veiliger HiAce-minibussies gerusstellend. Só ook vir diegene wie se kinders op skool in dié voertuie reis.

Hoe gaan die nuwe HiAce inskakel met Toyota Suid-Afrika se minibusproduklewering, wat steeds sukkel om te voorsien in plaaslike vraag? Waarskynlikheid sal albei bussies saam bemark sal word, met die huidige Quantum wat voorsien in die behoefte van die meeste stedelike taxidienste, en die groter en kragtiger nuwe geslag HiAce wat vir langer afstande ingespan kan word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.