Toyota verkoop meer as 3 000 Hilux-bakkies per maand in Suid-Afrika. Dit is verreweg die land se gewildste voertuig. Maar hoe gemaak as jy nie net nog ’n eienaar van ’n wit dubbelkajuit-Hiluxbakkie wil wees nie? Is daar nie iets wat jou sigbaar kan maak in die see van Hilux-bakkies nie?

Toyota se bemarkingsmense het met die einste vraagstuk geworstel en bied nou ’n baie beperkte oplossing: die Hilux GR-Sport.

In wese is die bakkie ’n Hilux 2,8 GD 4x4-dubbelkajuit, maar daar is verskeie tegniese kenmerke wat hierdie Toyota-bakkie van ander onderskei. 

Gazoo is Toyota se renafdeling en die Suid-Afrikaanse afdeling daarvan kan hom daarop roem dat dit van die wêreld se beste renbakkies bou. ’n Suid-Afrikaanse Hilux-V8-bakkie het immers vanjaar se moordende Dakarveldren in Suid-Amerika gewen, en dit is ook die oorsprong vir die GR-Sport Hilux.

Die bakkie se voorkoms is treffend met plakkers in Toyota se Gazoo-renspankleure en ’n sierrooster wat met ’n reuse-Toyota-kenteken spog. 

Al is die Hilux GR-Sport in ’n reeks bakwerkkleure beskikbaar, sal al hierdie bakkies ’n swart enjinkap en dak hê. Binne is daar leerbekleedsel met rooi stiksel en GR-Sport-kentekens op die matte en voorste sitplekke.

Voornemende GR-Sport-eienaars wat hul bakkies vir veldrywerk wil gebruik, sal beïndruk wees. Toyota se tegniese mense het besluit om die GR-Sport eerder met ’n kleiner 17 duim-wiel toe te rus, waarop ’n groter 265/65-band pas. Gewone 2,8-GD-Hiluxbakkies gebruik 18 duim-wiele, wat dalk mooier vertoon, maar die groter bandvolume op ’n GR-Sport verbeter die vastrapvermoë en ritgehalte op strawwe roetes. 

Agter daardie 17 duim-wiele skuil die bakkie se beste kenmerk: ’n veringstelsel pasgemaak vir veldwerk. Voor is daar kronkelvere met meer weerstand as in ’n gewone Hilux, wat voorkom dat die GR-Sport se neus deurslaan as jy onverwags teen ’n hoër snelheid deur ’n slaggat of oor ’n ongelykheid jag.

Die Hilux GR-Sport se skokbrekers spog ook met ’n dubbelbuisontwerp en beter kleppe. Die voordeel? Verbeterde ritgehalte op grondpaaie en standvastigheid op ongelyke oppervlakke. Onder daardie swart enjinkap loop ’n turbodieselenjin van 2,8 liter wat 130 kW en 450 N.m lewer.

Prys en beskikbaarheid? GR-Sport is die eerste Hilux wat meer as R700 000 kos. Vir die bybehore en beter vering betaal jy R40 000 meer as vir ’n soortgelyke 2,8 GD. Met slegs 535 van hierdie bakkies vir die plaaslike mark beskikbaar, gaan die GR-Sport se prys van R707 400 egter waarskynlik nie ’n versperring wees.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.